Archive for July 2008
71 000 mense!
Ek is van nature maar moerse skepties en ook agterdogtig oor groot skares.
Almal, maar álmal – dis nou my gelowige eweknieë – is beïndruk dat Angus Buchan eers 60 000 en toe meer as 71 000 mense bymekaar kon kry. “‘n Wonderwerk!”, jubbel die gelowiges.
Maar die dag ná Doftus het Bennie Dick (die sóveelste), die omie met die wit kêps en die rok, wat meen hy is God se verteenwoordiger hier op ons blou-groen klippie, derde van die son af, ‘n half-miljoen mense op ‘n renbaan in Sydney getrek. 5-0-0-0-0-0 mense! Daai Poolse skrumskakel, Jan-Paul, het sélf skares der skares gelok.
Buchan se besigheid lyk ma’ vi’ mý skralerig teen Bennie Dick s’n. En Bennie Dick, só sê sommige, is eintlik die “anti-Chris” (Antie opdat hy rokke dra, soos ‘n antie. En sukke satyn slipperkies.) Nodat ek daaraan dink… Jesus het óók rok gedra! En sukke leer sêndelkies…
As jy aan die getalle meet, troef Rome die upstart protestantse jubbelbrigades loshanne!
Godsk!, die stories wat my Australiaanse korrespondente my vertel! Van mense wat gespaar het om Bennie Dick te kom sien. Hulle het met níks opgedaag nie; sonder kos en slaapplek gebly… net om die omie in die rok te sien.
Ek weet darem nie… gelowiges klink vir mý dóm. Jammer! Maar wrágtag.
‘n Handves van godsdiensregte en -vryhede
Daar word tans ‘n Handves van godsdiensregte en -vryhede vir Suid Afrika voorgestel.
Só ‘n handves verguis die onweerlegbare beginsel van skeiding tussen godsdiens en die staat. Die regulering van ‘n verhouding vestig die verhouding en daar durf nie ‘n amptelike verhouding – hetsy wesenlik óf stilswygend – tussen godsdiens en die staat wees nie. Enige amptelike akkommodasie van die godsdiens belemmer die staat se vermoë om al sy burgers teen ideologiese nyd te beskerm.
Die ontsetting van 9/11 het hiérdie péperduur voordeel met bloed en verdriet en afgryse gekoop: Dit het godsdiens uitéindelik uitgewys as ‘n onbetroubare geo-sosiale speler.
Dit is godsdienstige Moslems wat vliegtuie in die wêreldhandelsentrum parkeer het. Dit is nie waaroor godsdiens gaan nie… maar dit is wat in godsdiens se invloedsfeer gebeur.
Dit is die militêre messianisme van George W Bush se “Jesus-in-my-heart” kruistog-wêreldpolitiek wat die “axis of evil” nasies en almal wat nié soos die moderne kruisvaders dink en glo nie (“you’re either for us or against us“) met slim bomme en slimmer ekonome vernietig.
Dit is die “Fight-the-agents-of-the-Devil-God-will-give-us-victory” terreur van Osama wat harte laat sidder en beef.
Dit is gelowige testosteroonverrykte tieners wat niksvermoedende verbygangers met springstof uitmekaar skiet.
Dit is die Katoliek in Belfast, dit is die Protestant in Belfast, dit is die Hindoe in Gujarat, dit is die Boeddhis in Colombo, dit is die Jood op die Westeroewer, dit is die Taliban in Afganistan; dit is die Islamboeli in Ossetië… Dit is nie waaroor godsdiens gaan nie, maar dit is wat in godsdiens se invloedsfeer gebeur.
Godsdienstige geloof, skryf Sam Harris in The End of Faith, verteenwoordig so ‘n enorme halsstarrige misbruik van die verstand dat dit aan ‘n sonderlinge soort kulturele perversiteit gestalte gee – ‘n punt in die verskiet waar rasionele diskoers onmoontlik is.
Godsdiens kan nie vertrou word om in ‘n bepaalde gereguleerde verhouding tot die staat te staan nie.
Lees die Rapport Perspektief-artikel, Christen, Jood, Moslem en Tamil werk saam.
Media24 in Aanbidding
In sy jongste Beeld Godsdiens-Aktueel rubriek – Genesing kort vir moreel siek SA – is dr Isak Burger weer op sy stukke. “Die belangrikste faktor wat ‘n mens se waardes en moraliteit bepaal, is die invloed wat God in jou lewe het – die God van liefde, waarheid en geregtigheid”, meen hy.
Die redakteur van die Skeptic’s Annotated Bible, Steve Wells, het bereken dat God sowat 33 miljoen mense vermoor, of laat vermoor het. En dis net in die Bybel! Daar sterf elkde dag tallose mense, baie van hulle onskuldige kinders, sonder dat Burger se God van liefde, waarheid en geregtigheid ‘n vinger lig! “Die God van Liefde”?
Vir sy heel beste vriende sê Jesus net voor sy “hemelvaart” dat hy net gou by sy Vader gaan inloer; hy kom nou-nou weer en dan vat hy hulle saam met hom. Dis sowat 2000 jaar later en daar is nog geen teken van Jesus nie. Die goeie vriende is al eeue lank dood. “Die God van waarheid”?
Ten einde die skreiende gruwel van Adam en Eva se vrugtestelery te weerlê, laat “God” sy onskuldige “seun” dood martel in wat sekerlik die onregverdigste verhoor en teregstelling in die heelal se geskiedenis is. “Die God van geregtigheid”?
Ruim 90% van Suid Afrikaners glo in “God”; 80% is Christene. As die land “moreel siek” is, is dit kennelik omdat die meeste van sy mense “moreel siek” is – gelowiges; Christene.
Beeld – Media24 in aanbidding – word by die dag belagliker. Who shall rid us of this trivial paper?
“Waarheid”
Johannes Coetzee wil weet “watter bron is vir jou die Waarheid en hoe weet jy watter een is die waarheid?” en “wat reken jou ‘bron’ van waarheid wanneer gaan die wederkoms en die einde wees?”
Wel, daar gaan nie ‘n “wederkoms” wees nie. Wát, of wié, gaan weer kom, meen jy? En die einde is ‘n funksie van natuurkragte.
Daar bestaan ook nie iets soos “absolute waarheid” nie. Hoe’t Ambrose Bierce nou weer per geleentheid gesê: “Infidel: In New York, one who does not believe in the Christian religion; in Constantinople, one who does.”
Die einde van die wêreld
Oor sowat 5 miljard jaar sal die Son se waterstof uitgeput wees en sal dit tot meer as ‘n duisend maal sy huidige grootte uitdy. Ons weet nie, alhoewel daar vermoed word dat dit so sal wees, of die aarde naby genoeg aan die son is om verswelg te word nie. Daar was verlede jaar ‘n artikel oor ‘n verfageleë (sommer báie veraf) planeet wat sy son se red giant fase oorleef het.1
Hoe dit ook al sy, ons mense sal dit nie oorleef nie.
So daar het jy dit: Vyf miljard jaar. Ek dink daar is nog tyd vir ‘n Johny Walker Blouetjie of twee.
Dis natuurlik nou as ‘n meteoriet nie die aarde tref nie.
Een ding kan egter met absolute sekerheid gesê word: die een of ander antieke heilige boek het beslis nie die antwoord nie!
Bible.ca lys meer as 200 voorspellings vir die einde van die wêreld. Die voorspellings het almal gekom en gegaan en is meestal gedoen deur mense wat die een of ander “heilige boek” só of sús gelees het. En dít terwyl die Bybel sélf sê (Mat 24) dat niémand weet wanneer die einde sal kom nie.
Datumvoorspellings vir die einde van die wêreld: ‘n pot kák.
(1) Silvotti, R et al. 2007. A giant planet orbiting the ‘extreme horizontal branch’ star V 391 Pegasi. Nature 449: 189191.
Miljardêrs in Jééésus se naam!
Bennie Hinn het vandeesmaand in die Coca-Cola Dome in Randburg ‘n “seën van God” belowe – ‘n seën wat slegs twee minute sou duur en wat van 500 kerkgangers miljoenêrs en selfs miljardêrs sou maak… as hulle met hul kredietkaarte elkeen ‘n $1000 (nié Zim dollars nie) offerhande sou maak. “Honderde mense” het die offerhande gemaak.
Ek het min tot niks oor dié ding te sê.
As iemand ‘n groot genoeg doos is om ‘n $1000 (US!) te betaal omdat Hinn sê “die Here” sal jou ‘n miljoenêr – selfs ‘n miljardêr! – maak as jy dit doen, dan moet jy maar jou $1000 verloor wat!
Mý pot se deksel is dat ‘n AGS pastoor – ene Tommie Ferreira van die AGS-gemeente Floridapark, Roodepoort – opset is met Hinn! Ferreira wil nou weet wie van die skenkers miljoene ge-in het oor die afgelope week of twee.
Ek wil weet hóékom Ferreira opset is. Sý kerk, die AGS, het gereeld genesingsdienste waar mense van alle denkbare siektes en pyne “genees” word. Dié mense word nooit gesond nie – behalwe as die mediese wetenskap hulle gesond kry – maar niemand sprak ooit ‘n woord oor hoe sulke arme desperate siek mense bedônner word nie!
Nou wonder ek… is dit die onmiddelikheid van Hinn se belofte wat Ferreira so ontstel? Sou Ferreira beter gevoel het as die offerbedrag laer was en die boerpot effe later as binne twee dae uitbetaal het?
Sien, ek reken dat mense bid vir genesing totdat die siektetoestand so erg word dat hulle al hoe meer mediese aandag moet kry… en dan slaan die wetenskap gebed vir ‘n ses oor die bouler se kop en genesing word ‘n moontlikheid. In die AGS kerk vind bedrieglike en pseudo-genesings gereeld plaas. Niemand stel ooit ondersoek in om die latere gesondheid van die mirakelgeneesdes te monitor nie.
Maar wil jy nou meer: selfs vir ‘n pastoor wat óók van “God” se dienste gebruik maak om mense se algemene toestand te verbeter, is Hinn se blantante kak darem net te érg vir wóórde!
Ek wonder oor nóg ‘n ding: Wát het Ferreira op Hinn se saamtrek gemáák? Kon dit werklik vir ‘n AGS pastoor verras het om Hinn se cronies te sien scheme? Ferreira reken hy laaik van sing en hy het ma’ net saam gesing toe dié $1000-kak gebeur het. En nou is daar ‘n wrangerige smaak in Ferreira se mond. Kak het die geneigdheid om so ‘n wrangerige smakie te los. En ‘n klankie ôk.
Of jy iemand nou genesing oor ‘n week, ‘n maand, ‘n jaar, of eendag in die parafôkkindys belowe, of R10, of R1000, of miljoene oor ‘n dag of ‘n dekade – in die naam van “die Here” – dit bly ‘n kakstorie. Die koste, die termyn en die prys is irrelevant.
(My goeie vriend DW het die volgende relevante artikels op die Web opgespoor: Benny Hinn – Sow $1000 and become a Millionaire; Benny Hinn: Todd Koontz and the two-minutes blessing scam; “God bless your credit card”?!?! False Prophet Benny Hinn at it again!)
“Dis nie waaroor godsdiens gaan nie”
Rick stel elders voor dat ek hierdie essay, wat ek in 2004 geskryf het, hier publiseer. Ek maak so. Want dis ‘n goeie voorstel. En ek het al eintlik vergeet van dié stuk…
“Vrye wil”
Soos ek elders aan iemand onderneem het… hier is my storie oor “Vrye Wil”.
God se planne
Kristi Kriel is op 10 Julie 2008, skuins ná twaalf, hélder oordag, verkrag. Vir ‘n vriendin SMS sy: as God toegelaat het dat dit met my gebeur, dan’s dit reg met my. Ek’s nie kwaad vir Hom nie. Inteendeel. Ek dink dit bring my nader aan Hom.
Kristi sê haar rolmodel, Eric Liddell van Chariots of Fire-faam, het gesê: “I do not need explanations from God. I simply believe Him and accept whatever comes my way.”
7 September 2008…
Rapport berig dat Kristi se pa, Piet, Hanlie Retief in ‘n brief bedank het vir wat haar artikel vir sy gesin beteken het. “Mag die Here jou ryklik seën!”, skryf Kriel.
Ek kan my nie ‘n groter vloek voorstel as juis dít nie: dat “die Here” wat toegesien het hoe iemand se dogter verkrag word se “seën” (is this rich, or what?!) op iemand anders toegebid word!
Jissis! Hierdie onkapabele “God” van die Christene kan opfôk nés hy wil; sy skape blêr steeds “God se genade en liefde” uit. Verfôkkinstommend!
Bid jou aan! Jy spreek die wens uit dat die doos wat staan en toekyk het hoe jou dogter verkrag word – die bliksem wat veronderstel was om na jou dogter se welstand om te sien – ook na ‘n weldoener se welstand sal omsien!
Hoe de fôk werk dít!? As jy dankbaar is, spreek liewer die wens uit dat hierdie “god” so ver as moontlik sal wegbly van enigiemand vir wie jy omgee… selfs van jou ergste vyande af!
Kan iemand, iewers, my assebliéf probeer verduidelik hóé godgelowiges se koppe werk. Of altans, hoe dit is dat hulle koppe nié werk nie; summier ophou werk as die geloofskakelaar aangaan!
Destyds, ten tyde van die verkragting was daar ook hierdie storie in Rapport…
Ben Freeth, ‘n boer van Zimbabwe, is deur ‘n martelhel en meen dit is alles deel van “God se plan” vir sy land.
“Deur alles het God ons beskerm; daarom is daar nie vrees in ons harte nie, maar hoop,” sê Freeth.
My hart breek vir Kristi en vir Ben. As dit my dogter of my broer moes wees… ek weet nie hoe ek dit sou kon hanteer het nie.
Solank hierdie “God” net sy bloebesmeerde kloue van my af weghou. Sy planne, en dit wat Hy toelaat is om van te kots.
Jesus drop, place en score op Doftus
Loftus het gister volgens berigte glo gedawer met applous vir Jesus1. 70 000 mense het ge-halleluja en ge-amen. Meer as 69 000 was wit en verreweg die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekend.
Verstaanbaar, maar ai tog, so verskriklik embarrassing.
Prof. Hansie Wolmarans van die Universiteit van Johannesburg het op die Sol Plaatje-Diskoersreeks, Aardklop, 2002 gesê dat die tradisionele verlossingsleer (sondeval en verlossing) uiters nadelige effekte het. Dit skep gevoelens van angs en skuld en maak mense kwesbaar vir religieuse manipulasie. Dit ondermyn ook menslike verantwoordelikheid.
Dit maak mense, onder andere, bygelowig, het Wolmarans gesê. Op daardie stadium was dit juis Afrikaanssprekende Christene wat die sogenaamde profeet van Lagos, TB Joshua, plaaslik aangehang het. Dit was nie ‘n kerklike tydskrif of Afrikaanse koerant wat sy bedrog blootgelê het nie, maar Special Assignment van 17 September 2002. Dit was weereens veral Afrikaanse Christene wat geglo het Marietjie Prinsloo se Krion-skema kan hulle ‘n wonderbaarlike opbrengs van 10% per maand gee, want op haar briefhoofde verskyn mos die woorde Soli Deo Gloria: “Aan God alleen die eer”. Dit is veral Afrikaanssprekende Christene wat in hulle duisende Bruce Wilkinson se Jabesgebed aankoop en sy saamtrekke bygewoon het. (Volgens Wilkinson hoef jy net elke dag 1 Kronieke 4:10 woordeliks te bid, en God sal jou ryk maak.)
Ek is gatvol dat mý mense – Afrikaanse mense – so bedônner word deur geloof en bygeloof. Daar is geen verskil tussen dié twee hoerkinders van Onnoselheid en Oningeligtheid nie.
Dat die “Grootste Afrikaanse Weekblad in die Wêreld” (GAWeWe – Rapport) sulke onbevange onsin soveel prominensie kan gee… wel, dit gaan nie meer die verstand te bowe nie: dis te verwagte. Wat anders as onsin kan jy nou aanbied as jy lesers wil behou wat glo in ‘n “god” en ‘n ewige lewe na die dood?
Afrikaanssprekende wit mense word verdom omdat koerante soos Rapport lekkergoed vir kleuters bly uitdeel in die naam van winsgewendheid.
Ek herinner my die woorde van die pers-ghoeroe Piet Cillié: “In die lewe bestaan ‘n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te erger die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ‘n goeie dosis van wat hulle behóórt te wil hê.“
Angus Buchan se massasaamtrekke is onverantwoordelik en ondermynend: dit versterk die sosiale polarisasie tussen die wat “wéét” wat reg is en die wat “nié weet” nie. Die Suid Afrikaanse Maatskappy kan dít nie bekostig nie.
Loftus. Dat dié trotse baken van Springbokrugby nou Doftus moet word. Ai, jai, jai, jai, jai, jai, jai.
(1) Die Suid Afrikaanse rugbyspeler van die 20ste eeu, Frik du Preez, word besing vir sy vermoë om te kon drop, place en score. Hy het sy rugby in Pretoria gespeel.
