Nathan Bond's TART Remarks

Religion: Respect? Ridicule!

Archive for August 3rd, 2008

‘n Ope Brief aan professor Julian Müller

with 18 comments

Sondag, 3 Augustus 2008

Beste Julian

Toe ek jou Beleef ons ‘n godsdienstige herlewing? in Saterdag (2/8 ) se By klaar gelees het, het ek my koffiebeker behaaglik neergesit en gedink: Tja! Well said sir!

Later dié middag kom ek toe agter dis nie net die blêddie Michael Vaughn se halstarrige weiering om die sigskerm op Edgbaston te laat verstel wat my kriewelrig het nie… dis ook jou puik artikel.

Toe gaan lees ek wéér.

Jy sê: “Die gesonde verhouding tussen geloof en verstand moet behou word. Ons het opnuut ‘n behoefte aan bevryding van bygeloof. Ons moet weer die vermoë ontwikkel om te onderskei waarop dit neerkom en die moed van ons oortuiging te hê om manipulasie en goedkoop godsdienstige propaganda te verwerp en mense daarteen te waarsku.”

Jy maak asof dit moontlik is om godsdienstig te wees sonder om rede te verloën. Dit ís nie. Nie moontlik nie.

Soos daardie Groot Skopvoet altoos sê – aan die einde van die dag… sit jy nog steeds met “God” in die godsdiens. Dis die einste “immer teenwoordige en altyd moontlike ‘God’” waavan jy onlangs geskryf het.

Om voor te gee dat geloof in ‘n bonatuurlike “immer teenwoordige en altyd moontlike” wese en die verhale in ‘n baie, baie antieke versameling perkamente volledig in pas is met wetenskaplike bewys is verregaande.

Maar die eintlike skade wat jou artikel bring is dat dit gelowiges se waansin versterk dat godsdiens, as bepaalde ekstreme invloede en goedkoop godsdienstige propaganda verwyder word, eintlik baie heilsaam is. Dit ís nie. Nie heilsaam nie.

Laat ek verduidelik:

In God’s dupes (Los Angeles Times,15 Maart 2007) verwys Sam Harris, die skrywer van The End of Faith, na “konsentriese sirkels van dalende redelikheid”. Hy meen dat enigiemand op hierdie kontinuum noodwendig beskerming bied aan iemand anders wat nader aan die middelpunt van ekstremisme is. Dit beteken dat meelewende gelowiges, soos basaartannies en kooromies, wat in presies dieselfde “God” glo as Pat Robertson en James Dobson en D. James Kennedy en Jannie Pelser en Isak Burger en Piet Strauss en Angus Buchan, noodwendig aandadig is aan vergrype soos, byvoorbeeld, die ontkenning van wetenskaplike gegewes, die vertrapping van gay regte, die vervolging van rubriekskrywers en onderwysers en DJs en rolprentmakers omdat hulle aspris, goedgelowig, skerp of diepsinnig is, en Dominionisme.

Om die grens van redelikheid oor te steek en ‘n “immer teenwoordige en altyd moontlike ‘God’” as ‘n werklikheid te aanvaar, is om ‘n ruimte te help handhaaf waarbinne afgryslike monsters gedy. Of jy nou in die nok van die sirkel staan, of op die rand.

As die vergrype van die godsdiens ooit getemper of geneutraliseer gaan word, sal die aftakeling van die buitenste konsentriese sirkel af moet begin – daar waar die gewone meelewende kerkbankers hulle van die fundamentalistiese middelpunt en goedkoop godsdienstige propaganda disassosieër, maar inderdaad presies so waandenkend (delusional) is soos hulle medegelowiges in die middel. Wanneer hierdie “goeie” gelowiges hulle rol in die vergrype van die godsdiens besef sal ‘n nuwe hoofstuk in die mens se vooruitgang aanbreek.

Dit klink vir my asof jy – en vele van vernuwende godsdiensdenkers – besef dat die “Geloof” van selfs die laat 20ste eeu al belagliker en belagliker word… Maar nie hééltemal nie.

Die “immer teenwoordige en altyd moontlike ‘God’” kan net so wel die “immer teenwoordige en altyd moontlike ‘Tandemuis’” of die “immer teenwoordige en altyd moontlike ‘Sinterklaas’” wees! Dit is ‘n niksseggende stelling wat hoegenaamd nie eens spreekwoordelike waarde het nie!

Ek is bevrees die verlies, Julian, is inderdaad volkome. “‘n Lewe wat weer en weer gebore word en van nuuts af gelewe moet word” (soos jy oor die “immer teenwoordige en altyd moontlike ‘God’” skryf) móét (noodwendig) met die laaste sodanige “wedergeboorte” uiteindelik gebore word in ‘n omgewing waar die besef van kille afsydigheid – geen doel nie – besef word. Solank ons nog, soos ‘n moederbobbejaan, die verottende lyf van die gestorwe Christus agter ons aansleep, gaan die wedergeboortes ons elke maal op dieselfde plek besorg. (Ek bedoel dit natuurlik in die rykste en wydste moontlike beeldspraak.)

Dis tyd om te breek. Om volledig te breek.

Groetnis

Nathan Bond

Written by Nathan Bond

August 3, 2008 at 15:18

Posted in Religion must go!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.