Archive for May 3rd, 2009
Gelowiges se kritiek op Angus e.a.
Van Moses en Michaelangelo se antropomorfe nurks langs die pad af van Kritiese Realisme, Post-fondamentalistiese Rasionaliteit, Radikale Ortodoksie, Post-liberale teologie en Postmoderne Wetenskapfilosofie tot by die panenteïstiese transendentale van desperate teoloë op soek na voortgesette relevansie is “God” ‘n verdollende, vertorende vaagheid wat niks minder nie en niks meer nie as Moeder Natuur “laat gebeur”.
Van die natuurlike ateïsme by die eerste asemteug tot by dié “God” is ‘n enorme sprong, maar van hierdie “God” af is dit ‘n katspoegie na geloofsgenesing en Armageddon.
Rapport se halfgebakte kritiek op Angus Buchan en voortgesette onderskrywing van die “God” – weet waar om die streep te trek; Jean Oosthuizen se o, so realistiese “kitskos-teologie”-tipering van Angus se aweregse godsdiens; dr Ben du Toit se verontwaardiging oor geteksde teksversies wat die openbaring van die “God” buite konteks kan plaas; die professors in die Noorde wat gevoelige byvoeglike naamwoordkartetse heen en weer skiet oor die “God” se openbaring… is verstandsverstommend.
Help mense eerder om tot die ontnugterende besef te kom dat daar nié feëtjies onder in die tuin is nie, eerder as om hulle te probeer oortuig dat die feëtjies nie vertoorn of verlei kan word nie… moenie mense help om “God” beter te verstaan nie; help mense om te besef dat daar nie ‘n “God” ís nie. Want met die “beter begrip” – na watter kant toe ook al – word die feërie gevestig en waansin werklikheid.
