Archive for October 2009
21 Mei 2011…
Kom ons kom ooreen!
Ek is al lankal gatvol vir hierdie “Family Radio” kak dat die wêreld op 21 Mei 2011 gaan eindig. Ek lewer ook lankal nie meer kommentaar daaroor nie.
Maar ek daag Johannes Coetzee, wat oor dié lawwigheid erns het, hiermee formeel uit: Ek sal op 20 Mei 2011 my “hart” onvoorwaardelik vir die Here gee. As die wêreld die volgende dag eindig, drink ons ‘n bottel van Gabriël se engelepis in die Paradys uit; as die wêreld nie op 21 Mei 2011 eindig nie, drink ons ‘n bottel Château Petrus 61 hier op moeder aarde uit – op Johannes se rekening.
Laat weet my of jy hierdie uitdaging aanvaar, Johannes Coetzee.
Blacky Steyn oor skolegodsdiens
My vriend en dinkebroer, Blacky Steyn, wat tans op een van sy gereelde gesondheidswandelinge (“constitutionals”) in Europa is, het my aanvanklike kommentaar op dr George Claassen se eendagprotes oor skolegodsdiens só aangepas…
Die reaksie op dr George Claassen se kortstondige en versaakte konstitusionele aanslag teen skolegodsdiens het al die geykte argumente vir die reg op godsdiensbeoefening weer bo laat dryf: Van “dis ons reg!” tot “waar kom alles dan vandaan?”
Claassen se stilgebore protessie is ietwat van ‘n verleentheid vir skeptici en rasionele denkers wat erns het met die lewenslange invloed van vasgelegte idees in die vormingsjare.
Suid-Afrika se voortreflike grondwet verskans mense se reg selfs op vanielje onnoselheid. Die reg op besnydenis, byvoorbeeld, is onvervreembaar dog, in die afwesigheid van dwingende mediese redes, onverdedigbaar behalwe as ‘n ritueel wat mettertyd ‘n sosiale norm in bepaalde kulture geword het.
Godsdiens is kultuurverbonde. As dit nie so was nie sou godsdienste waarskynlik eweredig verteenwoordig gewees het en sou Moslems en Christene en Shinto’s, byvoorbeeld, nie oorwegend in bepaalde gemeenskappe gesetel gewees het nie.
Die reg op godsdiensbeoefening kan beswaarlik bevraagteken word. Om die reg te hê om iets te doen maak die daad egter nie verpligtend of voordelig nie.
Die bewese verdommende invloed van oortuiging sonder bewys en op grond van onvolledige inligting en bevooroordeelde opinie skreeu ten hemele teen, ondere andere, tradisionele godsdiensonderrig, maar is nie beperk tot tradisionele godsdiensonderrig nie.
Godsdiens verryk die ontwikkelende insig oor die aard van die moderne mens, maar om in die godsdiens antwoorde te soek oor die hoes, die hoekoms en die toekoms van mensheid is ontoepaslik.
Sterk stemme is nodig om die onderskeid te identifiseer en geldende onderrigbesluite af te dwing.
Die uitdaging is om ‘n toekomstige generasie leiers te verseker wat onbelas is met opgesierde reproduksies van voorwetenskaplike onkunde oor mensheid.
Swartetjie
Per epos van iewers tussen Bordeaux en Pauillac
