Posts Tagged ‘Bybel’
Stories
Daar is ‘n verskil – ‘n móérse verskil – tussen stories en fabels.
André van Niekerk vertel dat Plato gemeen het dat morele deugde deur stories vasgelê kan word: “Vertel kinders stories!”
Stories is verslae oor goed wat gebeur het en wat al meer en al langer stertjies kry soos dit oorvertel word – veral as verantwoordelike vertellers, soos die media veronderstel is om te wees, nie die feite vroeg vaslê en gereeld bevestig nie. Mettertyd kry stories ‘n veelkantigheid wat deur verskeie faktore, maar veral die aanvaarding van ‘n bepaalde paradigma, wat op vorige vergroeide stories berus, só gedraai word dat die lig in ‘n bepaalde rigting weerkaats. Dit is dan die plig van die kritiese denker om die stertjie af te kap sodat die akkedis kan oorleef.
Fabels is stories oor goed wat nié gebeur het nie, maar wat wonderlik sou gewees het as dit wél gebeur het*. Fabels word vertel om die frustrasie van onverstaanbaarheid teen te werk: Ons is hier omdat daar ‘n almagtige god is wat die wêreld gemaak het; daar is probleme in die wêreld omdat Pandora ‘n boks oopgemaak het; ons gaan na die dood vir ewig leef, want ons mense is heeltemal te belangrik om net vir ‘n paar jaar te bestaan…
Daar is ‘n verskil – ‘n móérse verskil – tussen stories en fabels.
Die beduidende voordele van stories word geheel en al oorweldig deur die nadele van leuenagtigheid. Kerke is onbetroubare bewakers van stories en fabels. Hierdie onbetroubaarheid is die oorsaak van fanatiese fundamentalisme wat Pinochio oor en oor en oor ‘n regte vlees-en-bloed seuntjie probeer maak.
Wie sal die bewakers van die storieskatkis dophou?
* Se non è vero, è molto ben trovato (as dit nie waar is nie, is dit ‘n lekker verdigsel) was blykbaar ‘n algemene sêding in die 16de eeu. Giordano Bruno (1585) gebruik dit in bogenoemde vorm; Antonio Doni (1552) gebruik Se non è vero, egli è stato un bel trovato. Se non è vero, è bene trovato het ek by ‘n Italiaanse grysaard wat ek ken gehoor, en hy vertel dat die Tjeggiese skrywer Karel Capek dit gebruik het.
Die betroubaarheid van die Bybel
Deelnemers haal heelwat tekste aan op hierdie blaaie en ek meen, opdat dit mý blog is, dat ek ‘n soort van ‘n verpligting het – ‘n morele, of ‘n etiese verantwoordelikheid – om die aanhalers van “Die Boek” te wys op die aard van “Die Boek”:
Ons het nie die oorspronklike “Nuwe Testament” (NT) nie. Nie net het ons nie die oorspronklike NT nie, ons het nie eens kopieë van die oorspronklike NT nie. Om die waarheid te sê, ons het nie eens kopieë van kopieë van die oorspronklike NT nie. Ons het ook nie kopieë van kopieë van kopieë van die oorspronklike NT nie. Die kopieë wat ons wel het, is baie lank ná die oorspronklike gemaak. En met “baie lank” bedoel ek eeue later – honderde jare later. Kopieë van kopieë van kopieë van kopieë van kopieë van kopieë van… Hándgeskrewe kopieë. Van handgeskrewe kopieë. Van handgeskrewe kopieë. Oor die eeue heen en deur politieke en leerstellige agendas en gevegte heen. En die kopieë wat ons het verskil van mekaar – op derduisende plekke. Daar is meer verskille tussen die kopieë as wat daar woorde in die NT is! (Dit is feitelik korrek, hierdie hoeveelheid verskille – ek maak dit nie op nie; dis nie beeldspraak nie.)
Die spesialis tekskritikus Bart Ehrman sê: “Dis nogals moeilik om te weet wat die woorde van die Bybel beteken as ons nie eens weet wat die woorde ís nie.”
Om ewige waarhede in die NT raak te sien is nie net lagwekkend nie, dis pervers.
