Posts Tagged ‘Johan Strydom’
Die Imoreletapark Uitspraak
Die hof se boodskap aan die kerk is eenvoudig: die gesag waarop jy jou beroep om te doen wat jy doen is ongeldig. Punt. Die kind se naam is Wit Willem.
Die kerk se gedragsreëls is ontleen aan ‘n dokument waarvan slegs kopieë van kopieë van kopieë van hangeskrewe kopieë beskikbaar is. Die brondokumente is honderde jare jonger as die oorspronklike teks. Die tekskritikus Bart Ehrman vra tereg: hoe kan ons weet wat die woorde van die Nuwe Testament beteken as ons nie eens weet wat die woorde ís nie?
Bronstydperk mitologie en Superman-sprokies van die jaar nul het geen plek in die 21ste eeu nie. Behalwe dat dit bruikbare letterkunde is. Ons kan net sowel elke Sondag in ruim geboue saamkom en uitroep: “All hail Macbeth, hail to thee, Thane of Glamis! All hail Macbeth, hail to thee, Thane of Cawdor! All hail Macbeth, that shalt be King hereafter!”
En orreliste wat nie steek soos Lady Macbeth nie summier afdank.
Nota:
Ek meen dit was Lady Macbeth en nie Macbeth nie, wat Koning Duncan vermoor het. Macbeth het waarskynlik probeer om die moord te pleeg, maar hy kon nie. Vroulief het die doodsteek gegee. Ai, die Letterkunde! Soveel mense, soveel menings.
Imoreletapark in die hof
Dat homoseksualiteit ‘n biologiese gegewe is, is onweerlegbaar. Dat heteroseksuele mense homoseksuele afleiding kan soek is ‘n sosiale realiteit, maar nie ‘n vraagstuk wat op die hofsaak tussen Johan Strydom en die NG Kerk Moreletapark betrekking het nie.
Hiér is die issue, en dis ‘n non-issue: Behoort minderhede wat biologies verskillend is die regte en voorregte van lidmaatskap ontsê te word? Punt.
Die kerk wat verantwoording moet doen vir ‘n besluit om ‘n gay orrelis in die pad te steek (“Oóeé, dominínié”) is ‘n kerk wat jare der jare op grond van biologiese diversiteit gediskrimineer het – én wat sodanige diskriminasie Bybels geregverdig het.
In 1958 skryf Dr N P J Steyn in sy boek Biblical Aspects of Apartheid: “Why are the Europeans more advanced, enlightened, educated, civilised and richer and better placed on the whole than the natives if not by God’s intervention, supervision, rule and providence? Who are we to change what God has ordained?“
Gaan die NG Kerk waaragtig wéér hiermee wegkom?
Op 22 Oktober 1974 berig die Cape Times: “The General Synod of the NG Kerk decided in Cape Town yesterday that mixed marriages were physically possible because of the uniformity of the human race.“
Dít véértien jáár nadat diskriminasie in die NGK internasionaal by Cottesloe op die spits gedryf is.
Aan hiérdie kerk gaan besluite oor biologiese diversiteit oorgelaat word?
Gaan die NG Kerk waaragtig wéér hiermee wegkom?
Sê weer?
O, hulle het tóé verkeerd verstaan?
En hulle verstaan nóú rég?
Waar is die leiers van die kerk? Kies hulle, soos hulle voorgangers oor die jare heen, om niks te doen nie omdat dit ekklesiologies verkeerd sou wees om die voor die hand liggende regte ding te doen?
Na al die trane en die boetedoening en die versoening is die NG Kerk nog steeds in ‘n “óns en húlle” kopklem.
Presies hóé is die NG kerk van 2008 nou weer ánders as in die 50′s, 60′s, 70′s, 80′s, 90′s..?
