Posts Tagged ‘Loftus vir Jesus’
Jesus drop, place en score op Doftus
Loftus het gister volgens berigte glo gedawer met applous vir Jesus1. 70 000 mense het ge-halleluja en ge-amen. Meer as 69 000 was wit en verreweg die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekend.
Verstaanbaar, maar ai tog, so verskriklik embarrassing.
Prof. Hansie Wolmarans van die Universiteit van Johannesburg het op die Sol Plaatje-Diskoersreeks, Aardklop, 2002 gesê dat die tradisionele verlossingsleer (sondeval en verlossing) uiters nadelige effekte het. Dit skep gevoelens van angs en skuld en maak mense kwesbaar vir religieuse manipulasie. Dit ondermyn ook menslike verantwoordelikheid.
Dit maak mense, onder andere, bygelowig, het Wolmarans gesê. Op daardie stadium was dit juis Afrikaanssprekende Christene wat die sogenaamde profeet van Lagos, TB Joshua, plaaslik aangehang het. Dit was nie ‘n kerklike tydskrif of Afrikaanse koerant wat sy bedrog blootgelê het nie, maar Special Assignment van 17 September 2002. Dit was weereens veral Afrikaanse Christene wat geglo het Marietjie Prinsloo se Krion-skema kan hulle ‘n wonderbaarlike opbrengs van 10% per maand gee, want op haar briefhoofde verskyn mos die woorde Soli Deo Gloria: “Aan God alleen die eer”. Dit is veral Afrikaanssprekende Christene wat in hulle duisende Bruce Wilkinson se Jabesgebed aankoop en sy saamtrekke bygewoon het. (Volgens Wilkinson hoef jy net elke dag 1 Kronieke 4:10 woordeliks te bid, en God sal jou ryk maak.)
Ek is gatvol dat mý mense – Afrikaanse mense – so bedônner word deur geloof en bygeloof. Daar is geen verskil tussen dié twee hoerkinders van Onnoselheid en Oningeligtheid nie.
Dat die “Grootste Afrikaanse Weekblad in die Wêreld” (GAWeWe – Rapport) sulke onbevange onsin soveel prominensie kan gee… wel, dit gaan nie meer die verstand te bowe nie: dis te verwagte. Wat anders as onsin kan jy nou aanbied as jy lesers wil behou wat glo in ‘n “god” en ‘n ewige lewe na die dood?
Afrikaanssprekende wit mense word verdom omdat koerante soos Rapport lekkergoed vir kleuters bly uitdeel in die naam van winsgewendheid.
Ek herinner my die woorde van die pers-ghoeroe Piet Cillié: “In die lewe bestaan ‘n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te erger die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ‘n goeie dosis van wat hulle behóórt te wil hê.“
Angus Buchan se massasaamtrekke is onverantwoordelik en ondermynend: dit versterk die sosiale polarisasie tussen die wat “wéét” wat reg is en die wat “nié weet” nie. Die Suid Afrikaanse Maatskappy kan dít nie bekostig nie.
Loftus. Dat dié trotse baken van Springbokrugby nou Doftus moet word. Ai, jai, jai, jai, jai, jai, jai.
(1) Die Suid Afrikaanse rugbyspeler van die 20ste eeu, Frik du Preez, word besing vir sy vermoë om te kon drop, place en score. Hy het sy rugby in Pretoria gespeel.
Loftus vir Jesus
“Loftus vir Jesus” en soortgelyke teenswoordige godsdienstige massasaamtrekke is ‘n dwingende sosiale probleem.
“Die Kerk” groei deesdae slegs in Afrika, in Latyns-Amerika, in Mikronesië en in China. Dit groei omdat kerkleiers dieselfde tegniek as die sukkelende Britse motorvervaardigers in die 1960′s gebruik en ‘n model wat nie meer in Europa verkoop nie, na Derde Wêreldlande uitvoer.
Hierdie “Derde Kerk”, soos Walbert Buhlmann dit reeds in die sewentigerjare in sy boek “The Coming of the Third Church” beskryf het, is tradisioneel, ortodoks en bonatuurlik. Dit groei in onderdrukkendende omstandighede: Ekonomiese druk – ook onder voorheen bevoordeeldes; die verlies aan meelewing in die elektroniese era; die spanning van etniese en politieke diversiteit; die pyn en lyding van misdaad; die wanhoop van HIV/Vigs en ‘n kwynende openbare gesondheidstelsel.
Mense smag na vryheid, verligting, genesing en bevryding – juis die belofte wat die sterk charismatiese leierskap van die “Derde Kerk” bied. Dit is nie ‘n verrassing as kleuters soetgoed aanvaar nie!
Die opmars van hierdie bepaalde soort Christendom in die Derde Wêreld dreig om die voorveronderstellings, mag en politiek van die Westerse verdwynende liberale Christendom uit te daag, soos juis nóú in die Anglikaanse Kerk oor vroue- en gay biskoppe.
Anglikaanse Aartsbiskoppe van Afrika en Suid-Oos Asië het reeds konserwatiewe Amerikaanse eweknieë tot “sendingbiskoppe” verorden om tradisionele, fundamentalistiese en onfeilbare (inerrant) standpunte in die Amerikaanse Episkopale Kerk te bevorder. Die “Derde Kerk” beskou homself al hoe meer as die geroepe hersteller van die foutiewe standpunte wat die “afvallige” Westerse Kerk kniehalter.
Om Angus Buchan se massasaamtrekke klakkeloos te onderskryf – soos Beeld met oorgawe doen – is onverantwoordelik en ondermynend: dit ignoreer die oorsaaklike en versterk die sosiale polarisasie tussen die wat “wéét” wat reg is en die wat “nié weet” nie.
Daar is beslis dood in hiérdie kookpot!
