Nathan Bond's TART Remarks

Religion: Respect? Ridicule!

Charles Darwin en die Christelike geloof

with 12 comments

Charles Darwin en die Christelike geloof – 1809-2009
Sakkie Spangenberg
Midrand, 8 Februarie 2009

Creationists are right about one thing. Evolutionary biology is the science that most deeply threatens the Bible and theology (Williams 2008:15).

The “greening” of Christianity […] stands in marked contrast, and indeed direct contradiction, to much of the historic teaching of the churches. In stead of being lords of the universe and the pinnacle of creation, we must view ourselves as part of an interconnected web of existence. The responsibility for the future of the planet rests with us. We cannot look to another world and another life beyond this one, but must commit ourselves to an ecological imperative that will benefit succeeding generations (Leaves 2006:81).

1. Inleiding

Charles Darwin is op 12 Februarie 1809 in Shrewsbury in Engeland gebore. Hy het aanvanklik medies aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland gestudeer (1825-1827) en in sy vrye tyd saam met Robert Jameson op geologiese uitstappies gegaan. Die verpligte aanskoue van operasies op mense wat geen narkose of verdowing ontvang het nie, het hom nie aangestaan nie. Hy roep sy mediese studies gevolglik vaarwel en gaan studeer teologie aan die Universiteit van Cambridge (1827-1831). Hier loop hy ook kursusse in botanie en geologie. Alle studente aan Cambridge was in daardie jare verplig om die boek Natural Theology (1802) van William Paley (1743-1805) te bestudeer. In hierdie boek het die skrywer (‘n teoloog) geargumenteer dat ‘n mens uit die fyn struktuur van die aarde, plante, diere en alle lewende dinge kan aflei dat daar ‘n skeppergod moes wees. Die vergelyking wat hy gebruik het om sy idees mee oor te dra, was die een van ‘n horlosie en ‘n horlosiemaker. Enigeen wat die fyn ratwerk van ‘n meganiese horlosie al gesien het, kan nie anders nie as om tot die gevolgtrekking te kom dat dit deur iemand gemaak moes gewees het. ‘n Horlosie veronderstel ‘n horlosiemaker. Al die ratte en vere binne ‘n meganiese horlosie het nie maar per toeval byeengekom om ‘n horlosie te vorm nie. Dit geld volgens Paley ook van komplekse organe soos die menslike oog. Dis so kundig en kunstig saamgestel dat ‘n mens nie anders kan as om te konkludeer dat iemand dit moes ontwerp het nie. Hierdie “iemand” is die skeppergod. Paley se sieninge kom dus ooreen met wat ons vandag as “Intelligent Design” (= intelligente ontwerp) ken. Twee hedendaagse voorbeelde wat dikwels gebruik word om die idee van “intelligente ontwerp” te ondersteun, is stellings dat ‘n woordeboek nie tot standgekom het vanweë ‘n ontploffing in ‘n drukkery nie. Dit geld ook van groot passiersvliegtuie. Hulle is nie gevorm toe ‘n dwarrelwind deur ‘n skrootwerf gewaai het nie. Iemand moes so iets bedink, ontwerp en aanmekaar gesit het. Die boek van Paley het ‘n geweldige indruk op Darwin gemaak, maar sy sienings sou mettertyd verander.

In Desember 1831 vertrek hy saam met Robert Fitzroy die skeepskaptein van die vlootskip HMS Beagle op ‘n wêreldreis. Die doel was om van die vastelande in die suidelike halfrond se kuslyne te karteer. Darwin se pa het nie van die gedagte gehou nie, maar hom later wel toegelaat om as vriend van die skeepskaptein die reis aan te pak. ‘n Skeepskaptein van ‘n vlootskip was ‘n relatief hoë rang en die kaptein was nie toegelaat om met enige pleb te meng nie. Darwin was ten minste ‘n “gentleman” uit die Britse “adelstand” wat op gelyke voet met die kaptein kon kommunikeer. Voorts kon hy dit bekostig om as ‘n onbetaalde botanis rond te reis. Sy  familie was vermoënde mense. Sy oupa aan moederskant, Josiah Wedgwood, was die eienaar van ‘n fabriek wat fyn porseleinware gemaak het.

Tydens hierdie reis het hy Charles Lyell se Principles of Geology gelees. Lyell het geargumenteer dat die aarde oor ‘n lang periode deur geologiese kragte gevorm is. Hy het nie meer die idee voorgestaan dat die aarde binne ‘n paar dae ontstaan het en dat daar eeue gelede ‘n wêreldvloed was nie.

Toe die Beagle in 1835 teen die weskus van Suid-Amerika opvaar en by enkele hawens aandoen, het Charles Darwin voor sy oë klippe en rotse gesien wat van ‘n lang ontstaansproses getuig het. Hier beleef hy ‘n aardbewing wat die dorpie Conception vernietig en ontdek hy gefossileerde seeskulpe teen die berghange. Hy het besef dat dit alleen daar kon gekom het vanweë die werking van aardkragte. Charles Lyell se sienings het vir Darwin begin sin gemaak.

Van September tot Oktober 1835 spandeer hy twee maande op die Galapagos-eilande in die Stille Oseaan. Hierdie eilande is deur vulkaniese werking gevorm en is ongeveer ‘n duisend kilometer van die kus van Ecuador geleë. Hier het hy diersoorte gesien wat gelyk het “soos die soorte van die Suid-Amerikaanse vasteland, maar wat nie op die vasteland voorkom nie” (Ryke 1987:29). Voorts het hy ook variëteite van dieselfde dieresoort op die verskillende eilande te siene gekry. Die mees bekende voorbeeld is die verskillende vinkspesies wat hy gesien en versamel het asook verskillende soorte skilpaaie. Darwin het begin wonder oor hoe die verskille kon ontstaan het. Met sy terugkeer in Brittanje moes hy deur ‘n magdom data wat hy versamel het, werk. Darwin het by kwekers en teelers aangeklop om te bepaal hoe hulle verskillende soorte van dieselfde blom of dier respektiewelik kweek en teel. Hy het besef dat as mense op ‘n kunsmatige wyse kon selekteer, die natuur dit ook kon doen. Die begrippe “kunsmatige seleksie” en “natuurlike seleksie” is gebore. Natuurlike seleksie hang saam met omgewingsveranderinge wat spesies dwing om aan te pas. Om die waarheid te sê, daar is net drie opsies vir spesies beskikbaar: (1) aanpassing, (2) migrering, of (3) uitsterwing.

Iemand anders het egter ook gesit en broei op ‘n klomp data wat hy op ‘n rondreis versamel het. Die persoon was Alfred Wallace (1823-1913). Hy was ‘n jonger tydgenoot van Darwin en soos hy, geïnteresseerd in die biologie. In Februarie 1855 het hy ‘n artikel geskryf met die titel “On the Law which has Regulated the Introduction of New Species.” Hierdie artikel het die beginsels van evolusie uiteengesit. Charles Leyell het dit gelees en vir Darwin gewys. Hy was egter nie baie beïndruk daarmee nie, maar dit het waarskynlik ‘n invloed op hom uitgeoefen. Hy het besef dat iemand besig was om hom met soortgelyke navorsing besig te hou. Lyell het vir Darwin aangemoedig om sy idees so spoedig moontlik te boek te stel, maar Darwin was huiwerig omdat hy geoordeel het, dat hy nog nie alles mooi in kruike en kanne gehad het nie. Na regte was hy al in 1844 gereed om sy bevindinge bekend te maak en het hy ‘n manuskrip van etlike bladsye reeds voltooi. Hy skryf in Januarie van daardie jaar aan ‘n vriend: “At last gleams of light have come, and I am almost convinced (quite contrary to the opinion I started with) that species are not (it is like confessing to a murder) immutable, unchangeable” (vgl. Ryke 1987:31). Maar Darwin sou vir ten minste nog vyftien jaar met sy insigte en die data wat hy versamel het, stoei voordat hy ‘n boek oor evolusie (of soos hy dit genoem het “descent with modification”) sou publiseer (Bryson 2005:483).

In Junie 1858 ontvang hy ‘n brief van Wallace (die twee het met mekaar begin korrespondeer). Die brief het ook die ongepubliseerde artikel “On the Tendency of Varieties to Depart Indefinitely from the Original Type” bevat. Die prikkel tot die skryf van hierdie artikel het hy van Thomas Malthus ontvang (Moore 2000:126). Malthus het geargumenteer dat menslike populasies beperk word deur voedselvoorsiening. Hy het daarop gewys dat mense dikwels ‘n groter nageslag voortbring as wat hulle en hul omgewing kan onderhou. Gevolglik lei dit tot hongersnood en dood. Wallace het besef dat indien dit wel die geval was, dit gewoonlik die sterkstes was wat oorleef het. Die swakkes sal gewoonlik eerste sterf. Die sterkstes dra dan hul goeie eienskappe aan die volgende geslag oor. Toe Darwin die artikel lees, het hy besef dat hy in ‘n penarie sit. Hy het besef dat Wallace se sieninge feitlik 100% met syne ooreenstem. Charles Lyell en Joseph Hooker het besluit om Darwin uit sy penarie te help deur sy insigte (soos in sy 1844 manuskrip uiteengesit) en Wallace se insigte (soos in sy artikel van 1858 uiteengesit) by die “Linnean Genootskap” se kongres in Londen voor te dra. Hierna moedig hulle Darwin aan om sy idees so gou moontlik te publiseer anders spring Wallace hom dalk nog voor. Sy boek The Origin of Species by Means of Natural Selection, or the Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life verskyn gevolglik op 24 November 1859 en die eerste oplaag van 1 250 boeke is nog dieselfde dag uitverkoop. Op hierdie manier het Darwin nie slegs die eerste boek oor evolusie langs die weg van natuurlik seleksie gepubliseer nie, maar is sy naam vir ewig aan hierdie teorie gekoppel. Wallace moes tweede viool speel, maar hy het Darwin as sy meerdere erken en toegegee dat Darwin oor ‘n langer periode met die saak gestoei en ook oor meer data beskik het. Wat wel interessant is, is dat Wallace tog bly glo het dat die mens sy verstand, denke en redeneervermoë nie langs die weg van natuurlike seleksie gekry het nie, maar langs die weg van goddelike ingrype (Weinert 2009:121, 132-133). Darwin het hieroor egter ander sienings gehuldig. Ook die menslike verstand en redeneervermoë is die produk van natuurlike seleksie.  “If humans must trace their origins to earlier animal forms of life, then the emergence of both brains and mind must yield to evolutionary explanations” (Weinert 2009:121). In sy boek The Descent of Man (1871) het hy sy teorie uitgespel dat die mens verwant is aan die primate en dat hulle ‘n gesamentlike voorouer moes gehad het. Dit was ‘n heel moedige stap omdat geen ander mensfossiele behalwe die van die Neandertallers op daardie stadium beskikbaar was om tot so ‘n konklusie te kom nie. Die eerste skedel van ‘n Neandertaller is in 1856 naby Düsseldorf in Duitsland ontdek. Alhoewel Darwin op daardie stadium geen grond behalwe sy teorie onder sy voete gehad het, het hy die vermoede uitgespreek dat die mens oorspronklik uit Afrika kom.

Wat ons nie buite rekening kan laat nie is dat daar gedurende die agtiende en negentiende eeu interessante ontwikkelinge op die terrein van die geskiedwetenskap plaasgevind het. Europeërs het gedurende hierdie eeue ‘n historiese bewussyn ontwikkel. ‘n Historiese bewussyn is een wat daarvan bewus is dat die verlede nie presies soos die hede gelyk het nie. Die verlede is ‘n totaal ander wêreld. Volgens Allan Richardson (1964:41) het die mense van die sewentiende en agtiende eeu in twee oorvleuelende wêrelde geleef: aan die een kant die moderne wêreld van die natuurwetenskap en aan die ander kant die Middeleeuse wêreld met sy sieninge van die menslike geskiedenis. Baie geleerdes wat gedurende die sewentiende en agtiende eeu geleef het, het geglo dat die geskiedenislyn wat aan die hand van die Bybelse gegewens opgestel is, vasstaan: Adam was die eerste mens en die skepping het 4 004 v.C. plaasgevind.

2.         Gevolge vir die Christelike geloof

Charles Darwin word soms die Nikolas Kopernikus van die biologiese wetenskappe genoem. Die rede? Die omwenteling wat Darwin in die biologiese wetenskappe teweeggebring het, is vergelykbaar met die omwenteling wat Kopernikus in die sterrekunde teweeggebring het. Beide hierdie geleerdes het Westerlinge se sienings van hulself en hul wêreld radikaal verander. Hul teorieë het egter ook die verstaan van die Bybel en die meesterverhaal van die Christelike geloof uitgedaag. Terwyl die Christelike kerke Kopernikus se teorie dat die aarde om die son draai al aanvaar het, sukkel hulle nog om Darwin se teorie te aanvaar. Die rede waarom teoloë en gelowiges weerstand bied, hang saam met die feit dat die Christelike meesterverhaal verweef is met die antieke drieverdieping heelal, die antieke siening van hoe plant- en dierepesies geskep is en die plek wat die mens in die skepping inneem.

Tydens Darwin se leeftyd het die deursnee Westerling geglo dat die aarde 4 004 v.C. geskep is. Voorts dat al die plant- en dierespesies waarvan hulle geweet het oorspronklik só deur God geskep is.

Die idee dat die aarde in 4 004 v.C. geskep is, het hulle van die Ierse biskop James Ussher (1581-1656) gekry. Hy het die geslagsregisters in die Bybel noukeurig bestudeer en allerlei wiskundige berekeninge gedoen voordat hy hierdie siening van hom bekend gemaak het. Dit het so waar en betroubaar gelyk dat hierdie datum sedert 1701 in die Authorized Version (ook bekend as die King James Version) van die Bybel opgeneem is.

Die siening dat alle bestaande plant- en dierespesies oorspronklik só deur God geskep is, het mense as ‘t ware met moedersmelk ingekry. Anne Primavesi vat dit mooi saam wanneer sy skryf: “In the era after Aristotle and before Darwin, the fixity of species was a core belief.”

Afgesien van hierdie idees was daar ook die idee dat daar ‘n vaste orde en rangorde in die skepping bestaan. Mense het gepraat van “The Great Chain of Being”. Hierdie idee kan deur middel van ‘n leer voorgestel word. Net soos daar verskillende sporte op ‘n leer is, so is daar verskillende “sporte” ingebou in die plant- en dierelewe en die mens beklee die hoogste sport. Die idee van perfeksie hou ook hiermee verband. Visse het vinne en kiewe want hulle is perfek gemaak vir die omgewing waarin hulle moet leef en oorleef. Voëls is met vere geskep sodat hulle kan vlieg. Hulle is op hul beurt perfek gemaak vir die omgewing waarin hulle moet oorleef. Dit geld dan van elke ander plant- en dierespesie op aarde asook van die mens.

Hierdie idee van orde en rangorde en ewige onveranderlikheid is selfs in geestelike liedere uitgedruk. Vergelyk byvoorbeeld die bekende lied “All things bright and beautiful” wat deur C.F. Alexander geskryf is en waarvan ‘n gedeelte soos volg lui:

The rich man in his castle,

The poor man at his gate,

God made them high and lowly,

And ordered their estate.

Daar is nie toevallig ryk en arm mense in ‘n samelewing nie. Nee, God wys aan elke mens ‘n vaste plek in die samelewing toe. As jy as ‘n slaaf gebore is, moet jy vir lief neem daarmee. As jy tot die adelstand behoort en ryk is, is dit aan God te danke. Hierdie idee het mense uit die Bybel afgelees. Hulle het hul onder andere op die eerste skeppingsverhaal in Genesis beroep. God het alles in ses dae geskep en dis duidelik dat daar ‘n rangorde in die skepping bestaan. Die skeppingsverhaal begin immers eers met die skep van die aarde voordat die plante geskep word. Na die plante kom visse en ander waterdiere aan die beurt. Dit word opgevolg met die skep van landdiere voordat die mens aan die beurt kom. Net van die mens word gesê dat hy/sy die beelddraer van God is (Gen 1:27). Voorts word die mens beskryf as die kroon van die skepping – hy is “‘n weinig minder as ‘n goddelike wese” (Ps 8:6). Hulle ontvang ook die taak om oor alles in die skepping te heers (Gen 1:26).

Darwin se teorie van evolusie langs die weg van natuurlike seleksie het hierdie sienings uitgedaag. Eerstens het hy die standpunt van die geoloog Charles Lyell (1797-1875) aanvaar dat die aarde baie oud is. Tweedens het hy afskeid geneem van die idee dat plant- en dierespesies ewig en onveranderlik is. Derdens het hy die idee van lineêre en progressiewe evolusie verwerp. Sy siening kan as vertakkende evolusie (“branching evolution”) voorgehou word. Vierdens het hy die idee dat die mens die eindpunt van lineêre en progressiewe evolusie is, nek omgedraai. Laastens het hy afskeid geneem van die idee van ontwerp (“design”). Dit is dus te verstane dat biskop Samuel Wilberforce (1805-1873) hom verplig gevoel het om Darwin se teorie van evolusie langs die weg van natuurlike seleksie teen te staan. Sedertdien het verskeie ander teoloë en gelowiges hulle by Wilberforce aangesluit en teruggegryp na die sienings van die teoloog William Paley (1743-1805). Hy het in sy boek Natural Theology die siening voorgestaan dat die natuur na regte ‘n Skeppergod veronderstel. Alles is so mooi en pefek geskep dat dit ontmoontlik is om te ontken dat daar ‘n Skeppergod is. Darwin moes hierdie boek tydens sy studiejare as toelogiestudent aan die Universiteit van Cambridge bestudeer en was aanvanklik baie beïndruk met Paley se argumente, maar hy het later daarvan afskeid geneem.

3. Slot

Die evolusieteorie soos Darwin dit bedink en in sy boeke The Origin of Species by Means of Natural Selection (1859) en The Descent of Man (1871) beskryf het, het hom oor die afgelope honderd en vyftig jaar as betroubaar bewys. Baie Christene sukkel steeds om daarmee vrede te maak. Hulle sal soms ‘n hoër ouderdom vir die aarde aanvaar, maar die konsekwensies wat hierdie teorie vir die Augustiniaanse paradigma van sondeval-verlossing-eindoordeel inhou, ignoreer of systap. Neem die volgende as voorbeelde:

1.      Die tradisionele Christelike geloof aanvaar dat slegs mense na God se beeld geskep en gevolglik die kroon van die skepping is. [Hoe kan slegs húlle beelddraers wees as hulle uit ander lewensvorme geëvolueer het? Hoe kan hulle die kroon wees as daar nie lineêre en progressiewe evolusie bestaan nie, maar slegs vertakkende evolusie?]

2.      Dit aanvaar dat daar êrens in die verre verlede ‘n Adam en Eva bestaan het wie se dade tot ‘n sondeval en dood gelei het. [Dood hang nie saam met ‘n sondeval nie, want alle vroeëre spesies het gesterf – selfs nog voordat daar mense op aarde was. Dood is noodsaaklik vir die instandhouding van lewe op hierdie planeet. Sonder dood sou hierdie planeet homself al doodgewurg het.]

3.      Die mens het ‘n Verlosser nodig wat onaangetas deur die erfsonde is. Slegs só ‘n Verlosser kan die bose kringloop van die sondeval omkeer. [Daar bestaan nie so ‘n kringloop nie. Dis ‘n teologiese konstruksie van Augustinus (354-430) wat met sy eie seksualiteit nie vrede kon maak nie. Buitendien, sou Jesus as ewige Seun van God werklik mens geword het, dan besit die Drie-eenheid tans iets wat Hy nie vroeër gehad het nie. Nie slegs die genetiese materiaal van homo sapiens nie, maar van alle vroeëre lewensvorme.]

Kreasioniste is korrek wanneer hulle daarop wys dat die evolusieleer groot gevolge vir die tradisionele Christelike teologie inhou. As Christene egter maar net wil snap dat dáárdie teologie die skepping van teoloë uit die vierde en vyfde eeu is, kan ‘n nuwe teologie wat anders na die mens en die aarde kyk, wortel skiet. Tot dan sal daar egter altyd spanning tussen die evolusieleer en die tradisionele Christelike geloof bly bestaan en sal Christene steeds die standpunt huldig dat die mens die spil is waaromheen alles op aarde draai. ‘n Verantwoordelike groen teologie is moeilik met só ‘n siening te rym.

Bibliografie

Ayala, F.J. 2006. Darwin and Intelligent Design. Minneapolis: Fortress. (Facets.)

Bowler, P.J. 1987. Theories of Human Evolution: A Century of Debate, 1844-1944. Oxford: Basil Blackwell.

Bowler, P.J. 2007. Monkey trials and gorilla sermons: Evolution and Christianity from Darwin to Intelligent Design. Cambridge: Harvard University Press.

Bryson, B. 2005. A Short History of Nearly Everything. London: Transworld Publishers.

Chadwick, O. 1972. The Victorian Church, Part Two: 1860-1901. London: SCM.

Degenaar, J.J. 1965. Evolusie en Christendom: ‘n Opstel oor Teilhard de Chardin. Kaapstad: Simondium-uitgewers.

Dowe, P. 2005. Galileo, Darwin and Hawking: The Interplay of Science, Reason, and Religion. Grand Rapids: Eerdmans.

Greene, J.C. 1980. The Kuhnian Paradigm and the Darwinian Revolution in natural History, in Gutting, G. (ed.) Paradigms and Revolutions: Appraisals and Applications of Thomas Kuhn’s Philosophy of Science, 198-320. Nortre Dame: University of Notre Dame Press.

Grigg, R. 2008. Beyond the God Delusion: How Radical Theology Harmonizes Science and Religion. Minneapolis: Fortress.

Humphreys, C. 1985. Creation and Evolution. Oxford: Oxford University Press. (Studies in Christianity and Science.)

Johnson, P. 1991. Darwin on Trial. London: Intervarsity Press.

Kennedy, P. 2006. A Modern Introduction to Theology: New Questions for Old Beliefs. London: I.B. Tauris.

Leaves, N. 2006. The God Problem: Alternatives to Fundamentalism. Santa Rosa: Polebridge.

Mayr, E. 2000. Darwin’s Influence on Modern Thought. Scientific American, July 2000, 79-83.

Moore, P. 2005. Discoveries and Inventions That Changed Our World: The pioneers of modern science – what they did and why it matters. London: Apple.

Primavesi, A. 2000a. Sacred Gaia: Holistic Theology and Earth System Science.  London: Routledge.

Primavesi, A. 2000b. Theology and Earth System Science, in Parsons, S.F. (ed), Challenging Women’s Orthodoxies in the Context of Faith, 21-34. Hants: Ashgate.

Primavesi, A. 2003. Gaia’s Gift: Earth, Ourselves and God After Copernicus. London: Routledge.

Richardson, A. 1964. The rise of modern biblical scholarship and recent discussion of the authority of the Bible, in Greenslade, S.L. (ed.) The Cambridge History of the Bible 3: The West from the Reformation to the Present Day, 294-338. Cambridge: Cambridge University Press.

Ruse, M. 2001. Can a Darwinian Be a Christian: The Relationship Between Science and Religion. Cambridge: Cambridge University Press.

Ryke, P.A.J. 1987. Evolusie. Potchefstroom: Departement Sentrale Publikasies, PU vir CHO. (Wetenskaplike Bydraes van die PU vir CHO.)

Weber, G. 1998. I believe. I doubt. Notes on Christian Experience. London: SCM.

Weinert, F. 2009. Copernicus, Darwin, & Freud: Revolutions in the History and Philosophy of Science. Chichester: Wiley-Blackwell.

Williams, P.A. 2008. Science and the Bible in Dialogue III: In the end (Biology). The Fourth R 21 (6), 15-21, 30.

Young, D.A. & Stearley, R.F. 2008. The Bible, Rocks and Time: Geological Evidence for the Age of the Earth. Downers Grove: InterVarsity.

Written by Nathan Bond

February 12, 2009 at 06:40

12 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Verduidelik Hans

    screw-tin-eyes

    February 10, 2010 at 22:29

  2. Dit is nou jammer dat soveel Christenne nie besef, dat Gen. 1 en 2, het niks te doen met die ontstaan van die heelal. Dit is sinnebeelde wat boodskappe dra wat hulle nie verstaan nie.
    Ek stem saam, evolusie is ‘n feit en die aarde is baie oud.

    Hans Matthysen

    February 10, 2010 at 21:30

  3. Pieter, dis maar ‘n moeilike ding om te aanvaar, dat wat mens heeltyd geglo het is die waarheid, nou agterkom dit is nie.

    Ek sien Nathan is te gesout om die ‘bait’ te vat, maar ek sal.

    Waarom vind jy hierdie stuk ‘useless’ ?

    screw-tin-eyes

    February 10, 2010 at 14:50

  4. Nou ja tóé.

    Nathan Bond

    February 10, 2010 at 11:14

  5. skuus useless stukkie, dankie in elke geval.

    Pieter

    February 10, 2010 at 11:10

  6. dankie vir die stukkie leestof Nathan.

    Pieter

    February 10, 2010 at 10:36

  7. Truth does not demand belief. Scientists do not join hands every Sunday, singing, “Yes, gravity is real! I will have faith! I will be strong! I believe in my heart that what goes up, up, up must come down, down, down. Amen!” If they did, we would think they were pretty insecure about it.
    ~ Former preacher who later co-founded the Freedom From Religion Foundation, Dan Barker.

    Nathan Bond

    February 10, 2010 at 07:13

  8. I had someone who said to me, after I said I was reading The Greatest Show on Earth, that only a part of evolution was true but it’s not something they believed in. 😆

    One does not BELIEVE in evolution. It does not ask for faith, it’s a fact. Even if we had not even one single fossil, evolution stands. With the human genome, we don’t need fossils to confirm evolution.

    There is no room for a deity (the God of the Bible), there is no room for a creator (the God of the creationists). Of course these two are one and the same to believers, but as time (facts) showed that it’s a joke to believe in the one of the Bible (earth being a few thousand years old only), they decided we can push Him back in time and make him Creator to fit in with the millions-of-years-old earth.

    screw-tin-eyes

    February 10, 2010 at 06:58

  9. The complete absence of a quantified report aside, “asking every religious person [you] met about their views on evolution” is no guarantee of having polled an unbiased and representative sample. Moreover, “that the larger portion … [found evolution] palatable” conflicts dramatically with a rather more scientifically plausible survey conducted by George Claassen about two years ago. Finally, as Nathan points out, belief in both a theistic personal creator-god as per the bible and evolution are irreconcilable, no matter how hard each is spin-doctored: Either we evolved from an apelike ancestry, or a god breathed life and mind into a man-shaped blob of mud. You can’t have both.

    Con-Tester

    February 9, 2010 at 22:06

  10. They can find it as palatable as as a Meerlust Chardonnay for all I care – it is perfectly inconceivable to believe in a creator god and accept the fact of evolution. It’s somewhat like Adolf Eichmann finding Jewish company salutary.

    Nathan Bond

    February 9, 2010 at 21:14

  11. …did find it palatable, that is.

    Balanced Truths

    February 9, 2010 at 19:31

  12. I have spent a little more than a year asking every religious person I met about their views on evolution. Suprisingly, I found that the larger portion, of my meagre sample, did.

    Balanced Truths

    February 9, 2010 at 19:29


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: