Nathan Bond's TART Remarks

Religion: Respect? Ridicule!

Die Afrikaanse Pers en Godsdiens

with 2 comments

Maart 2008 (‘n Bygewerkte weergawe van die oorspronklike essay van Mei 2007)

Die Afrikaanse dagblaaie, Beeld, Die Burger en Volksblad, klink al hoe meer na amptelike apologete van die Christendom. Hierdie koerante wil saam met The New York Times, Die Zeit en NRC Handelsblad gereken word, maar die hand op die blaas-verhouding met die godsdiens vervlak hulle.

Dááglikse aanhalings uit die Bybel en verskeie weeklikse godsdiensbydraes word gestu met geréélde artikels soos Kerke kernvennoot vir staat (Die Burger, 20/9/2003); Nou is ons een kerk! (Die Burger se banier van 17/10/2003 – sien my ongepubliseerde lesersbrief hieronder); Derde Wêreld se Christenskap groei, Westerse geloof kwyn (Beeld, 1/9/2004) Wat sal gebeur as kerkdeure toe is? (Beeld, 21/2/2005; Volksblad 8/3/2005); Dit is nie ‘reg of weg (Beeld, 26/2/2005); Mag kerk vrae vra oor SA ekonomie? (Beeld, 7/3/2005); Kerk in Afrika g’n bedreigde spesie (Beeld, 13/3/2005); Ons het Paasfees nou regtig nodig (Beeld, 10/3/2008).

Op 27 Februarie 2007 publiseer Beeld se godsdiensverslaggewer, Neels Jackson, ‘n onderhoud met die destydse moderator van die NG Kerk, dr. Coenie Burger, Op soek na dieper eenheid, in Die Burger. Hierdie artikel is ‘n skaamtelose misbruiking van ‘n koerant om Burger se persoonlike mening (onder die skyn van ‘n onderhoud met die moderator) oor sensitiewe kerksake wat op die 2007 Algemene Sinodesitting van die NG Kerk ter tafel was, weer te gee. My kritiek op hierdie vergryp word deur die koerant geïgnoreer, terwyl selfs Burger se kollegas, tydens ‘n daaropvolgende moderamenvergadering, in camera protes aanteken.

Verskeie godsdiensrubrieke word gepubliseer: ‘n Woord Onderweg, Godsdiensperspektief, Godsdiensaktueel; Geestelike Waardes

Die Burger se Geestelike Waardes “rubriek” is veral insiggewend:

Hierdie “gewyde kommentaar” word Saterdae op die hoofartikelbladsy van die koerant gepubliseer – reg onder die hoofartikel – die artikel wat die koerant se mening oor tersaaklike aangeleenthede verwoord. Ek het ‘n redaksielid, me. Ilse Bigalke, op 28 Mei 2007 gevra wat Geestelike Waardes se status is: rubriek, kommentaar, redaksionele mening…

Bigalke se antwoord was onsamehangend. Dit is ‘n bydra van ‘n dominee… ‘n derde party… dit is kommentaar van ‘n godsdienstige aard, op uitnodiging van die redakteur…

“Maar verteenwoordig dit ‘n amptelike standpunt van Die Burger?”

(Aarseling.) “Nee.”

“Hoekom word dit dan op in dieselfde kolom as die redaksionele kommentaar gepubliseer?”

“Want dit is waar dit is!” (Ek maak nie hierdie gesprek op nie!)

“Hóékom is dit dáár, en nie op die blad waar ander rubrieke en kommentare gepubliseer word nie?”

“Want dit was nog áltyd waar dit nou is – vandat ek by Die Burger gekom het.” (Ek maak nie hierdie gesprek op nie!)

Geestelike Waardes is inderdaad ‘n onwaardige “rubriek” wat selfs denkende Christene aanstoot gee:

In In Godsnaam (15/11/2003) en in Sterker (22/11/2003) meen die skrywer, DJS, dat dit “nie-teologiese faktore” is wat agter ons konflikte skuil – nou nie juis “godsdiens” as sodanig nie! (Vertel dít vir die geliefdes van 9/11, en vir die kinders in Irak!)

In Here (17/4/2004) verseker hy lesers dat “Die Gekruisigde lééf… Dís die Evangelie – vreemd, onvoorspelbaar, onbegryplik, en radikaal in sy implikasies.” (Snért! Wanneer die inhoud van die bloed se tri-ammonium fosfaat finaal verminder as gevolg van die agteruitgang van die hart se pompvermoë verdwyn kognitiewe vermoëns en die opgepotte herrineringe wat in die hippocampus gedeelte van die brein gebêre is na waar dit vandaan kom – in die niet. En dís finaal! Of meen die redaksionele personeel van Media24 ánders?)

Hierdie letterlike heresendheid is in indrukwekkend kontras met die simboliese ter helle neerdaling van Ter helle? (8/3/2008 ) waar DJS die Heidelbergse Kategismus met Barthiaanse woordkuns tot in die 21ste eeu probeer sleep met: “Dit gaan nie om iets ná sy dood nie, maar týdens sy lewe en veral aan die kruis!” Nou só, dan sús; teologies verseker verantwoordbaar deur die een of ander teoloog, maar ter helle met die leser!

In Dink self! (28/8/2004) gebruik hy ‘n een-dimensionele weergawe van Immanuel Kant se etiek om sistematiese godsdiensmoraliteit by implikasie bo die “Dink Self! paradigma” te verhef. Bog! DJS beledig baie lesers wat hulle lewens buite die dwingelandy van godsdiens rig.

In Godsdiens-aktueel: Kerk lank reeds meer nie gebou (Beeld, 3/3/2008 ) hou dr. Stephan Joubert óók voor – ten miste by implikasie – dat mense beswaarlik indien ooit medemenslik kan wees in die afwesigheid van geloof in God. Dít hoort nie in ‘n koerant wat veronderstel is om ‘n sekulêre publikasie te wees nie. Dit is ‘n cheap shot. Punt.

Op 26 Mei 2007, in Waar hy wil, sluit DJS só af: “(Gods Gees se) aanwesigheid is altyd ‘n afwesige aanwesigheid. Sy werkinge verborge. Sy vrug ryp geheimenisvol – en is daarom vir misverstand vatbaar. Alles kan ook ánders uitgelê word, met ánder verklarings, menslik, sielkundig, sosiaal. Almal ook waar en reg, want só werk die Gees. Maar met diepe waarvandane en waarhene tog nie gepeil nie.”

Dit is die produk van ‘n sagsinnige woordmeester, van ‘n logodaedalus! Dít is woordkuns! Maar ek verstaan dit eenvoudig nie! Dit herinner aan Noam Chomsky se “Colorless green ideas sleep furiously” – ‘n sin om aan te dui dat ‘n sin grammaties korrek kan wees, en ook onsinnig en verspot.

Dat só ‘n stelling op die hoofartikelblad, onder die redaksionele kommentaar, van die grootste Afrikaanse breëblad kan verskyn is skrikwekkend! Dit kompromitteer die joernalistieke integriteit van Die Burger.

Die juiste fisiese posisie van Geestelike Waardes verhef dié derde party bydrae tot ‘n hoêr status, ten minste by bepaalde onkritiese lesers, as, byvoorbeeld, die Forum-artikel, Dawie en ander rubrieke – selfs die weeklikse Godsdiensperspektief-rubriek. Ek vermoed dat die redaksie ten minste nie hierdie indruk wil weerlê nie, alhoewel ek meen dat die redaksie nie noodwendig hierdie indruk (van ‘n hoër status) wil erken nie.

Onlangse Godsdiensperspektief-artikels verwys ook:

Dr. Allan Boesak se Die God met die gewonde knie (8/10/2006) is ‘n pragtige storie uit die ryk kultuur en welluidende taal van die Khoi. Dit spreek nogeens die teodisee-vraagstuk (wat so omvattend bespreek is tydens die 2004 Kers-tsoenami – sien die bespreking hieronder) aan, maar faal om lesers eers bedag te maak op die antieke filosoof Epicurus (341 – 270 VAE) se steeds onbeantwoorde vrae oor die onderwerp. God word onkrities voorgehou as ‘n God wat omgee en wat mense se belange voorop stel en wat absoluut aanbiddingswaardig is, maar wat tóg nie werklik die mas teen boosheid kan opkom nie, want hy word teruggehou deur verkeerde (sondige) menslike keuses.

Ds. Johann Symington se Rugby ‘n soort godsdiens met eie gode, heilige tradisies (Die Burger, Godsdiens-perspektief, 23/5/2007) meen “die eintlike redding van die wêreld, die werklike ritueel rondom die ontmoeting met die Transendente, word Sondag beleef…” wanneer Saterdag se rugbyspelers en gewone alledaagse sterflinge saam aanbid en “die Woord hiet en gebied”… Selfs gerekende kerkmense wat anoniem sal bly het gewonder wat Symington nou eintlik hiermee bedoel. Gewone godgelowige lesers het waarskynlik verstaan?

In God staan steeds by armes, magteloses (Rapport, Perspektief, 11/6/2006) verklaar Boesak byvoorbeeld nie die lyding, moord en doodslag in Darfoer en Irak nie; in Godsdiens-aktueel, Sal die VSA tot sy sinne kom? (Beeld, 28/5/2007) is dit maar ‘n bepaalde soort religie wat die Amerikaanse buitelandse beleid vervuil, en nie godsdiens as sodanig nie…

Kommentaar op die Kersgety-tsoenami van 2004 is ‘n sprekende bewys van die Afrikaanse pers se boetie-boetie verhouding met die Kerk. Afrikaanse koerante het artikels gepubliseer soos Waar was God? (Die Burger, 07/01) en Wie kan met so ‘n God saamleef? (Die Burger, 15/1, scroll down) – ten minste effe getemper deur prof. Sakkie Spangenberg se Tsoenami’s geen ‘daad van God’ (Beeld, 9/1). Die Afrikaanse pers het God verdedig.

In skrille kontras het die Britse hoofstroompers artikels gepubliseer soos ‘Where is God in all this?’ – the problem for religions (The Guardian, 3/1); die spottende Was tsunami the work of renegade gods? (The Independent, 5/1); Moralists merely wail, but science gives us answers (The Sunday Times, 9/1); Should we end God’s monopoly over the universe? (The Independent, 13/1). Die Britse pers het God uitgewys vir wat hy is – ‘n oergedagte in die denke van gelowiges.

Ek is ‘n noeste leser en ek soek verniet na Afrikaanse artikels, of selfs vertáálde artikels in die Afrikaanse pers, soos Unintelligent Design (The New York Times, 20/2/2005); ‘n satiriese kykie na die notules van die vergaderings van die “Verenigde Gode” – A divine look at the royal nuptials (The Independent, 21/2/2005); Tests of faith (The Guardian, 24/2); The virus of religious moderation (The Times, 19/3)… Die Burger het, redelikheidshalwe, Richard Dawkins se Gebed vir my dogter (By, 11/12/2004) gepubliseer, maar dit was so ‘n uitsonderlike geval dat ‘n tsoenami die wêreld ‘n paar dae later getref het.

Die redaksie van Die Burger is volgens my Stellenbosse korrespondente huiwerig om artikels oor evolusie te publiseer. Daar word selfs beweer dat die gees van Urbanus VIII – die Pous wat Galileo se mond gesnoer het – op die redaksie vaardig is.

Hierdie spanning het in Augustus 2006 tot uitbarsting gekom toe Prometheus Ongebonde, ‘n Afrikaanse blog wat rasionele gedagtes en waarnemings oor onsinverklikkers en die wetenskap bevorder, summier onttrek is.

Die redakteur van Die Burger, mnr. Henry Jeffreys, het op navraag gesê: ” Die blog is in oorleg met my verwyder vir interne redes wat ek nie na buite toe wil bespreek nie.”

Maar volgens ‘n lid van Die Burger se hoofredaksie, Willem Pretorius, het Die Burger klagtes ontvang wat spruit uit dr. George Claassen se dubbele rol: wetenskapredakteur én ombudsman. Dit sou ongewens wees dat die ombudsman ook rubrieke skryf en beheer wat kontroversieël kan wees. En klaarblyklik is Prometheus Ongebonde en die Wetenskap Vandag- rubriek “kontroversieël”.

Dr. George Claassen, wetenskapredakteur en ombudsman, sou voortaan klaarblyklik slegs ombudsman wees. (Dr. Claassen wou nie kommentaar lewer nie en het alle navrae na die redakteur verwys.)

Maar díe ding ruik baie na ammoniak. So asof iets inderhaas deeglik skoongemaak is voordat ‘n klankie kon versprei.

Claassen was al drie jaar in hierdie dubbele rol, en sy integriteit as ombudsman absoluut bo verdenking.

Terselfdertyd het Claassen oor die afgelope jare die wetenskap vir leke toeganklik gemaak met ‘n reeks rubrieke en artikels wat begrip bevorder het. Hier was waarlik ‘n boodskapper wat die gewone mens gedien het – ‘n Prometheus, wat die “gode van die stad” aangedurf het en hulle vuur gesteel het sodat die mense daarby kon baat vind.

Hoekom moet dié ampte nóú skielik, onmíddellik, geskei word?

Die antwoord is voor die hand liggend:

Dr. Claassen het pas met ‘n resensie van Leon Rousseau se Die Groot Avontuur vir Jan en Alleman gehelp om hul onsinverklikkers te kalibreer, en aangedui hoe Intelligente Ontwerpers hoofstroom-wetenskapinsig gereeld deur die lens van godgelowigheid buig om die agenda van ‘n “skepping” diensbaar te wees. Want sonder ‘n skepping stort die die ganse geloofskaartehuis in duie stort.

Dít was die vonk in die kruitvat.

Dit is baie duidelik dat godgelowigheid net regop gehou kan word met behulp van mitologiese skeppingskussings: om ‘n veronderstelde Intelligente Ontwerper in lumine sicco te laat disintegreer, is om die Geloofsbestel die doodskoot te gee.

En dít is presies wat Claassen se verantwoordelike wetenskapberiggewing gedoen het – dit het onsin onbeskaamd uitgewys:

“Selektiewe aanhalings, woorde wat buite verband ingespan word om belangrike wetenskaplikes aan jou kant te kry, vae verwysings na anonieme bronne en Nobelpryswenners wat kwansuis jou kant van die saak ondubbelsinnig stel: dit alles word deesdae gereflekteer in die argumente van pseudo-wetenskaplikes wat hul irrasionele denke probeer verdedig teen rasionele wetenskaplike feite.”

Na drie jaar van oënskynlike “vreedsame naasbestaan” tussen die ampte van Wetenskapredakteur en Ombudsman, word die kwessie op die spits gedryf toe dr. Claassen bepaalde onsin identifiseer as totale ónsin.

Om Prometheus Ongebonde te verwyder het, was en bly sensuur in ‘n goedkoop aandpak.

Intelligente Ontwerp word opgrawe en die ontbindende liggaam in ‘n vuil onderrok as wetenskap aangebied. En Die Burger ondersteun hierdie poging heimlik, met 17 briewe wat Claassen se resensie (van Rousseau se boek) kritiseer… en 9 wat die resensie onderskryf.

Kreasioniste trek vol sale in Suid-Afrika (genadiglik, dog onbedoeld, tydelik ontspoor met Kent Hovind se belastingprobleme in 2006).

‘n Adjunk-redakteur van Die Burger veronderstel “god” sonder meer (Sake van die Dag) (4/8/2006) en hy word hy deur wetenskaplikes daarop gewys dat IO, geloof nie sinoniem (8/8/2006) is nie.

Heel onder aan Die Burger se webwerf (om 21h15 op 10 Augustus 2006) word daar ‘n vraag gevra:

Denke onderdruk?

Wat beteken dit om ‘n skeptikus te wees?, vra George Claassen…

Die skakel lei na al Die Burger se blogs… behalwe een: Denke onderdruk?

Hoe sê die godgelowiges: “The Lord moves in mysterious ways.”

Om lesers onder sulke omstandighede terstond die voorreg van rasionele waarneming te ontneem, is onverantwoordelik. Die Burger se aanbiedinge word skraps: melkkossies vir die middelmatige massas.

Die Burger has a history of a newspaper that can initiate change among its readers”, haal Flip Meyer prof. Lizette Rabie aan in Survivors (Mail & Guardian, 1/6/2006). Ja, well, no, fine.

Ons lewe in lekker lawwe tye:

In 2006 gaan soek twee Suid-Afrikaanse geestelikes na Noag se ark. En die Afrikaanse pers berig onbeskaamd – en veral ónkritities! – daaroor: Leraar op soek na Noag se ark (Die Burger, 2/8/2006); ‘n ondersteunende lesersbrief (Rapport, 6/8/2006); Noag se ark lê dalk bokant Quare-meer (Volksblad, 22/8/2006).

Die enigste snydige beriggewing het gekom van Rapport se Chris Karsten wat my honende kommentaar aangehaal het:

Op Du Plessis se uitnodiging aan “kritiese Suid-Afrikaners” en ander argeoloë se menings het mnr. Nathan Bond van Oudtshoorn skerp gereageer…

Kom ons hou by die skip en vergeet eers van die praktiese probleme met dierebestuur soos voeding, afval, aanteling, oefening en omgewingsrealiteite van ‘n vloed van daardie omvang. Hoe kan mense en diere ‘n jaar lank leef in ‘n houtboot van sowat 9 600 m op drie vlakke met ‘n enkele ventilasiegat?”

Hy sê om na Noag se ark te gaan soek, is soos om oorblyfsels van Aspoestertjie se pampoenkoets te probeer opspoor.

“Ek is bereid om ‘n ekspedisie na China te lei, en die kanse is beter om oorblyfsels van haar koets in die Zhangjiaji-woudpark in die Hunan-provinsie op te spoor as om Noag se ark te kry.”

Die vroegste weergawe van die Aspoestertjie-verhaal is omstreeks 860 n.C. in China aangeteken in geskrifte van Toean Sheng-Shi uit die Tang-dinastie, en het later herleef in Charles Perrault se bekende sprokie van 1697.

Koerante moet natuurlik verkóóp en redakteurs kan nie bekostig om lesers te vervreem nie. In Só glo ons… (Rapport, 20/5/2007) word berig dat 97% van alle Suid-Afrikaners in God glo. Ek wonder soms, gegewe die eeue-oue manipuleringsgeskiedenis van die Christendom, of kerkleiers koerante nie afdreig nie – “Oppas! Ek sal my lede aansê om jou koerant nie te koop nie.”

Tog herinner ek my die woorde van die pers-ghoeroe Piet Cillié: “In die lewe bestaan ‘n noue verwantskap tussen die gehalte van die pêrels wat jy aanbied, en die kaliber van die ontvangers daarvan. Hoe valser die pêrels, des te erger die swyne. Daarom het ek in my beroep die reël probeer volg om nie maar net aan die publiek te probeer gee wat hulle wil hê nie, maar ook ‘n goeie dosis van wat hulle behóórt te wil hê.

Die klaarblyklike traagheid om artikels oor evolusie te plaas illustreer die gevaar wat vals pêrels inhou:

Oorweldigende getuienis bestaan dat mense uit pre-hominiede primate ontstaan het. Húlle weer uit vroeëre soogdiere, en so ontrafel die wetenskap die verlede tot by die eerste sel wat sowat 3.8 biljoen jaar gelede ontwikkel het. Getuienis van “goddelike ingrype” bestaan gewoon nie. ‘n 2006 CBS- meningspeiling dui egter aan dat 55% van Amerikaners glo dat God mense in hul huidige vorm geskep het. Slegs 13% van die Amerikaanse bevolking reken dat homo sapiens sapiens die gevolg van evolusie is. Dit beteken dat méér Amerikaners die maagdelike geboorte as feitelik beskou as wat met evolusie die geval is! Die maagdelike gebóórte!

Natalie Angier, die Amerikaanse wetenskapskrywer en Pulitzer-pryswenner, reken mense kies tussen feit en mening soos wat hulle doen met sjokolade- en vanielje-roomys!

Só ‘n ongeërgde houding oor feit en mening is onrusbarend. Maar dit is verál oneties. ‘n Bewustheid; respék vir die verskil tussen feit en mening is die hoeksteen van moraliteit; oftewel etiek.

Dit is nie uitlokkende foto’s van “stout” advokate (met verwysing na die sogenaamde “advokaat Barbie”-hofsaak) en “soet” sangeressies (Sunette Bridges se jongste hartseer romanse) wat ‘n koerant vervlak nie. Dit is ook nie sporadiese artikels oor ‘n wetenskaplike herdenking híér of deurbraak dáár wat ‘n koerant bo die alledaagse uitlig nie. Nee, dit is eerder ‘n volhoubare morele omgaan met die rasionele wat ‘n markleier onderskei van die geelpers.

As ons hoegenaamd íéts uit die verlede kan leer, is dit dít: Ondenkbare vergrype is aan die orde van die dag wanneer mense nie gehelp word om “n grep op die werklikheid te kry nie Die voortslepende gebeure in Irak is ‘n kille voorbeeld. Om mense te oorreed om oor hulle diepste vrese te praat is waarskynlik die grootste uitdaging vir die beskawing in die 21ste eeu… Om te praat op maniere wat nie in stryd is met gesonde verstand nie. Dít is die uitdaging. En gelóóf is juis bepááld irrasioneel – geloof ignoreer getuienis; geloof is gewortel in persoonlike instink. Geloof is ‘n onredelike verwagting gegrond op die onwaarskynlike. ‘n Man word uit ‘n maagd gebore, gooi ‘n draai in die hel, staan uit die dood op, oorleef kosmiese bestraling in ‘n gewone jurk en beloof om weer op ‘n wolk te verkyn. Om rasionele insig te verwag uit die geledere van ‘n ideologie wat op sulke aannames gegrond is, is moontlik te veel gevra. Die droë beskuitjie wat in (Katolieke) kerke geëet word, is sekerlik makliker verteerbaar…

Sam Harris stel dit só in sy boek The End of Faith – Religion, Terror, and the Future of Reason: “The idea that any one of our religions represents the infallible word of the One True God requires an encyclopedic ignorance of history, mythology, and art even to be entertained – as the beliefs, rituals, and iconography of each of our religions attest to centuries of cross-pollination among them. Whatever their imagined source, the doctrines of modern religions are no more tenable than those which, for lack of adherents, were cast upon the scrap heap of mythology millennia ago; for there is no more evidence to justify a belief in the literal existence of Yahweh and Satan than there was to keep Zeus perched upon his mountain throne or Poseidon churning the seas.

Die Afrikaanse hoofstroompers verskans die Kerk en verskans geloof. Die Afrikaanse hoofstroompers ondermyn die wetenskap (ten minste indirek deur “belief” ten minste dieselfde erkenning en gravitas te gee as die wetenskaplike proses) en omseil sy verpligting teenoor Afrikaanse lesers met hierdie onverstaanbare begeerte om die Kerk se posisie te handhaaf. Só ondermyn hy die Suid Afrikaanse- en bepaald die Afrikaanssprekende gemeenskap.

Die ondermyning word bykans volmaak geïllustreer deur die Rapport-Deon-Maas-sage van November 2007. Ek gaan haal die storie in 2005 toe ‘n jong Afrikaanssprekende man tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gespreksreeks se Cowboys, kroeks, koerante – die media gister en vandag, van die vloer af vir spreker en redakteur van Rapport Tim du Plessis gesê het dat “jong mense” meer invloed wil hê in dit wat hulle in Rapport lees. Die kommentator se mening was dat Rapport (en waarskynlik het hy gemeen alle koerante en media) se inhoud deur bepaalde lesersgroepe se belange gerig behoort te word.

Du Plessis het met beslistheid gesê dat so ‘n beleid nie moontlik is nie. Die leser moet lees wat die koerant aanbied.

Dit is daarom verontrustend dat Du Plessis twee jaar later voor druk van ‘n militante kader van ‘n bepaalde belangegroep gebuig het en die pasaangestelde rubriekskrywer Deon Maas na slegs enkele rubrieke van sy pligte onthef het omdat die kader deur Maas se menings ontstig was.

In sy mediaverklaring oor die besluit sê Du Plessis dat Rapport en Maas geteiken is deur “‘n virale veldtog wat per e-pos en SMS gevoer is oor Maas se eerste rubriek oor Satanisme”. (Die rubriek het weliswaar nié oor satanisme gegaan nie, maar oor verdraagsaamheid en Maas se mening is op makabere wyse deur die protes bevestig.)

Du Plessis sê voorts dat “talle van Rapport se getroue lesers in goeie trou gereageer het. Daar is deeglik kennis geneem van hul standpunte. Rapport is verbind tot mediavryheid, die vrye uiting van menings en robuuste debat. Die georkestreerde boikotveldtog het egter die wese van die kwessie verander van een oor vrye meningsuiting na een oor kommersiële belang.”

Du Plessis het in 2006, oor die Deense Mohammed-spotprente, geskryf dat geen geld genoeg is om te vergoed vir wat ‘n mens (as joernalis) moet verduur wanneer ‘n godsdienspolemiek woed nie. Maar as ‘n mens redakteur wil wees dan moet ‘n mens maar die pyn vat. En ‘n mens moet veral die druk kan vat. Du Plessis het waarskynlik die korrekte “kommersiële” besluit geneem ten einde Rapport se “getroue lesers” se voorgesette getrouheid (en weeklikse paar silwer sikkels) te verseker, maar “vrye meningsuiting” het ongetwyfeld in die slag gebly… vir ‘n paar silwer sikkels.

Die Afrikaanse Pers is voorwaar die handperd van georganiseerde godsdiens. Hardnekkige gerugte dat Rapport per geleentheid onder druk van sekere kerkleiers nie die menings van die Nuwe Hervormers wou publiseer nie, is weereens tydens die Deon Maas sage opgehaal.

Hierdie ongelukkige episode gaan ‘n waterskeiding in die Afrikaanse Pers word. Watter móóntlike geloofwaardigheid kan ‘n koerant hoegenaamd oorhou as hy mening onderdruk wat bepaalde lesers aanstoot gee? Hoe kan ‘n koerant aan spot en hoon ontsnap as die dispuut boonop mitologiese snert oor gode en duiwels is wat werklik net die mees naïewe lesers aanstoot kan gee? Die naïewiteit word benadruk deur die feit dat Maas se gewraakte rubriek nie eens oor satanisme gehandel het nie, maar oor verdraagsaamheid – verdráágsaamheid!

Die grootste Afrikaanse weekblad het sy lesers – en bepaald ook en veral ook daardie lesers wat geprotesteer het – vieslik in die steek gelaat.

So ondermynend is hierdie geloofsbeskerming van die Afrikaanse Pers dat dit selfs uit eie geledere hiérdie broodnodige en dapper, maar tog ongewone, rantstappe (sic) tot gevolg het: briewe en artikels wat onder ‘n skuilnaam gepubliseer word omdat dit duidelik is dat bepaalde menings uit eie geledere nooit geduld sal word nie.

Miskien is dít ‘n meesterplan van Media24!

Miskien is Media24 besig om sy meesters en sy lesers – en veral sy adverteerders – gelukkig te hou met ‘n beperking op “kontroversiële menings oor die godsdiens uit eie geledere” deur briewe en artikels onder ‘n soort “Dawie” karakter se naam te publiseer… maar op die “(skou)ponie” blaaie van By, nie op die “breë” blaaie van Die Burger nie! Miskien is Media24 tóg lustig besig om Piet Cillié se pêrels vir die swyne te gooi! Kan daar uit Nas… uit Naspers iets (só) goed (en só skerp) kom?*

Something indeed is wrong in the State of Denmark. Dít is so opvallend soos ‘n jags pou in ‘n streep helder sonlig tussen digte bome.

Daar is egter hoop – Johan Degenaar stel dit onomwonde in ‘n gesprek met Leopold Scholtz (Die Burger, 11/3/2005): “Die sekerhede wat die staat en die kerk as magstrukture in die mense programmeer, moet bevraagteken word – vir my is belangrik dat die individu dinge vir homself moet ontdek, en dan moet hy deur die lastige vrae daardie programmering begin ontgroei. Dit is die evolusie van die mens.

As die Afrikaanse pers hierdie uitdaging kan aanneem, is daar inderdaad hoop!

Daar word reeds – veral in Die Burger en By – lastige vrae gestel. Veral deur die formidabele dr. Jurie van den Heever in die Wetenskap Vandag rubriek en dr. George Claassen in sporadiese artikels van wetenskaplike belang en geloofskritiese inslag – soos Vir God én vir wetenskap (By, 15/3/2008).

(Redelikheidshalwe moet dit vermeld word dat die “Engelse Pers” ook onder godsdienstige druk gebuk gaan. Die spotprentkunstenaar Zapiro se Story Character” spotprent – ter ondersteuning van Deon Maas – het lesers so omgekrap dat die redakteur van The Star en redaksionele direkteur van die mediagroep Independent News and Media Moegsien Williams, gesê het dat hy die spotprent sou gesensor het as hy dit voor publikasie ter insae gehad het.)

* My morele waardes en etiek is reeds met oorgawe bevraagteken. Ek is ‘n kerf of twee drie ónder die heer Hofmeyr, maar ek het die genade Gods om nie ‘n openbare rolmodel vir ou tannies te wees nie. Tog handhaaf ek die beginsel dat blootstelling (exposure) meestal onnodig is. (Ek is kennelik nog ‘n vrotsige joernalis ook!) Iemand wat om professionele redes meer inligting oor aspekte in hierdie paragraaf wil bekom kan kontroleerbare feite by my kry. Dit sluit natuurlik Huisgenoot-tipe navrae per definisie uit – veral omdat dit tot soveel méér doktorfilismes en skrootwerfpsigiatrie sal lei.

Written by Nathan Bond

July 2, 2007 at 20:34

2 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Is dit nie maar die aard van n koerant om die menings en idiologie van sy bree leserspubliek te weerspieel nie? Dit gaan sekerlik, uit die oogpunt van die uitgewers, om komersiele sukses of minstens oorlewing.
    Die vraag is natuurlik of n koerant n sosiale verantwoordelikheid het, of n blote verantwoordelikheid om kommersieel suksesvol te wees terwyl hy sy teikenmark bied wat hulle wil lees.
    Ek vermoed dat die standaard van beriggewing in die Afrikaanse pers n funksie is van sy lesers se lewensbeskouing. Dit is is n refleksie van hoe ver hulle bereid is om n mening wat afwyk van die laagste gemene deler (blinde,onnadenkende geloof) te verduur.
    As Afrikaner weet ek uit duur ondervinding dat die toleransie vir n afwykende mening nie besonder hoog is nie.

    Shazee

    December 26, 2011 at 06:53

  2. […] Die Afrikaanse Pers is voorwaar die handperd van georganiseerde godsdiens. Hardnekkige gerugte dat Rapport per geleentheid onder druk van sekere kerkleiers nie die menings van die Nuwe Hervormers wou publiseer nie, is weereens tydens die Deon Maas sage opgehaal. […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: