Nathan Bond's TART Remarks

Religion: Respect? Ridicule!

Liefs die wetenskap!

with 2 comments

Februarie 2005

Tsoenami’s, en ander natuurrampe vertel ons níks van God nie. Omdat daar niks te vertelle is nie.

1650 VAE – Die vulkaniese eiland Santorini bars uit en ‘n honderd en vyftig meter hoë tsoenami verwoes die Griekse Eilande. Die noorde van Kreta word uitgewis. Lewensverlies: Onbekend.

1755 – ‘n Verwoestende aardbewing, van waarskynlik 9.0 op die Richterskaal, lê Lisabon in in puin. Die geweld van die skudding dreineer die hawe en die watermassa keer terug in ‘n golf van 15 meter hoog om nog dood en verwoesting te saai. Lewensverlies: 60 000.

1883 – ‘n Vulkaniese uitbarsting in die Suid Chinese See veroorsaak ‘n geweldadige tsoenami. Lewensverlies: 40 000.

1960 – Die grootste aardbewing van die 20ste eeu tref Chile. Die gevolglike tsoenami dood meer as 2 000 mense.

1998 – Nog 2 000 mense sterf toe ‘n tsoenami die noordkus van Papua New Guinea tref.

2004 – Die Kersgety bring die grootste tragedie in menseheugenis toe ‘n aardbewing van 9.0 op die Richterskaal ‘n reeks tsoenami’s veroorsaak. Lewensverlies: Meer as 226 000.[1]

Teoloë en gelowiges delf diep in ‘n vergeefse poging om God substansie te gee met uitgerekte argumente rondom die sogenaamde theodicee-probleem (afgelei uit die Latyns vir “regverdiging van God” en daardie vertakking van die teologie wat God se goedheid en regverdigheid in die teenwoordigheid van boosheid en lyding verdedig). Ernst Conradie wys “kortliks” op nie minder nie as ses(!) klassieke en eietydse pogings uit die Christelike tradisie om die “teodicee-vraag” te beantwoord;[2] Gerrit Brand gebruik bykans 6000(!) woorde om die vraagstuk in perspektief te plaas.[3]

Die teodicee-vraagstuk is ‘n vergeefse en deursigtige poging van teoloë om God se bestaan te wil. Net soos alle ander “teologiese vraagstukke” kan die teodicee-vraagstuk net aangespreek word binne die konteks van “‘n God wat bestaan”, en omdat die moontlikheid van “‘n God wat bestaan” verdwynend klein is, en buite die raamwerk van selfs moontlike kennis val, is daar geen rede om hierdie voorveronderstelling te oorweeg nie. Net soos met die dumbing down dinamika van kreasionisme en maagdelike geboortes en natuurwetverkragting mirakels en opstandings uit die dode en ewige lewe, kan daar hoogstens binne ‘n beperkte eiesoortige sosiaal-litêrere konteks met die teodicee-vraagstuk omgegaan word. “Die rol wat God in natuurrampe speel” is gewoon nie wetenskaplik verantwoordbaar nie. Dit is eenvoudig nie ‘n onderwerp vir intelligente debat nie. Dit hoort tuis in die milieu van feetjies en kabouters, van Sinterklaas en die Tandemuis; dit is gelykwaardig aan ‘n analise van die “oorsprong en rigting” van Merlin en Dumbledore se gogelary.

Die verbouereerde en teenstrydige uitsprake van geloofsleiers oor die tsoenamiramp wil almal ‘n Skepper- en Verlossergod beskerm en verskans. Die Aartsbiskop van Kantelberg het egter erken dat dit onder die omstandighede verstaanbaar is dat gelowiges aan die bestaan van God twyfel.

Slegs die mees vergewende denker kan godsdiens se reaksie en kommentaar en verduideliking en analise van die tsoenamiramp ernstig opneem. Die godsdiens opper elke moontlike antwoord, maar die godsdiens het inderdaad geen antwoord nie.

Die vreemdste reaksie was van ‘n biskop wat op die BBC gesê het dat ons gedagtig moet wees dat God ‘n hele heelal het om te bestuur, nie net die aarde nie. (“As if God had a busy day stopping asteroids colliding with a planet inhabited by vegetable-based one-eyed giants the other side of Sirius B, then sat down for dinner and thought, ‘Oh bollocks – Earth. Do you know, it went clean out of my mind.’“)[4] Van die skerpste reaksie het van Ernst Conradie gekom: “Ja, die verskuiwing van tektoniese plate, aardbewings en tsoenami’s is deur God gewil.”[5] God kry dus die skuld, en omdat God die skuld kry, volg dit dat God ís. Slim, ‘n baie slim argument.

Conradie vra twee vrae: Is tsoenami’s (en lyding in die algemeen) God se wil en hoekom is daar hoegenaamd tsoenami’s (en lyding in die algemeen)?

Dit sal wys wees om die fisikus Jacob Bronowski se woorde in die televisiereeks The Ascent of Man in gedagte te hou: “Ons moet aanvaar die wêreld kan net begryp word deur aksie, nie deur kontemplasie nie.”

Die godsdiens se reaksie op natuurrampe huiwer meestal tussen die waansinnige (dis oor sonde) en die venynige (dit toets ons geloof) en die gewelddadige (ná die Lisabon aardbewing van 1755, byvoorbeeld, is ketters wat God se toorn sou ontlont het, opgehang).[6]

Vir antwoorde moet ons liefs by die wetenskap aanklop: God het niks met die tsoenami te doen gehad nie. Die tsoenami is veroorsaak deur plaattektoniek-aktiwiteit – ‘n aardbewing. Aardbewings is alledaags; daar is gemiddeld elke dag twee aardbewings van 2.0 of hoër op die Richterskaal iewers in die wêreld.[7] Dit gebeur omdat die aarde ‘n dinamiese planeet is wat lewe op ‘n dinamiese manier onderhou. Die Bybelwetenskaplike, prof. Sakkie Spangenberg stel dit só: “Homo sapiens is nie die spil waaromheen die aarde draai nie – al wil die Christelike dogmas ons dit maak glo. Ook hierdie spesie kan soos die dinosaurusse verdwyn – en dalk was die tsoenami-ramp ‘n herinnering aan die moontlikheid.”[8]

Daar is ondenkbare lyding in die natuur. In die tyd wat dit neem om hierdie artikel te lees word duisende diere lewendig opgevreet, duisende vlug vir hul lewens, duisende word stadig deur parasiete verteer; duisende vrek van honger, dors en siekte, skryf Richard Dawkins.[9] Kom ek brei uit op Dawkins: In die tyd wat dit neem om hierdie artikel te lees sterf daar duisende mense – aan siektes, in ongelukke; in die uitvoering van misdaad. Landmyne ruk bene en arms van kinderlyfies af, ander kinders sterf van honger en baie kinders word wees gelaat in etniese oorloë of omdat hulle ouers aan vigsverwante siektes sterf. In die tyd wat dit neem om hierdie artikel te lees maak sommige mense ‘n fortuin terwyl ander ‘n fortuin verloor. Ons leef in ‘n wêreld van elektrone en selfsugtige gene, skryf Dawkins verder; in ‘n wêreld van blinde fisiese kragte en genetiese replikasie, en in só ‘n wêreld gaan sommige mense seerkry en ander mense gaan geluk smaak. Ons soek vergeefs na geregtigheid – goed gebeur sonder slot of sin. Ons wêreld het die presiese eienskappe wat te wagte is van ‘n wêreld sonder ontwerp, sonder doel; ‘n wêreld sonder boosheid, sonder goedheid; ‘n wêreld van kille afsydigheid.

Om te lewe is ‘n gevaarlike besigheid – niemand het “die lewe” nog oorleef nie; almal wat die lewe al aangedurf het, het nog gesterf! Maar ons wat besig is om dood te gaan, is die gelukkiges omdat ons die voorreg het om die lewe te smaak – die volheid van die eenvoudige, heerlike sin van die natuur se skrikbewind, van die oorsprongterreur. Alles wat ons doen, doen ons onder hierdie dwingelandy. Ons teater is grillig en ‘n rommeling herinner voorturend aan die paniek en chaos wat onder die verhoog sied. Op dié verhoog gaan dit oor passie, visie, pyn, vrees, verdriet, hoop, vreugde; liefde.[10]

Die wetenskap was nie gevorderd genoeg om mense te waarsku die Lisabon ramp nie. Siektetoestande wat ná die verwoesting geheers het, het verdere lewens geëis.

‘n Paar honderd jaar later kon wetenskaplikes die aardbewing in Suidoos-Asië monitor en die derduisende slagoffers is meestal onkant gevang deur verstommende administratiewe laksheid. Die wetenskap kon mense genoeg tyd gegee het om aan die verwoesting van die tsoenami te ontsnap, as die regerings van Suidoos-Asië aan vroeëre waarskuwings van wetenskaplikes oor die moontlikheid van so ‘n ramp gehoor gegee het.

Verskeie waarskuwings van wetenskaplikes is geïgnoreer:[11]

Samith Dhammasaroj van Bangkok, Thailand: “I issued a warning – an official warning.”

Rajeshwara Rao van Chennai, Indië: “We predicted that the earthquake would occur on the 26th at 6am Indian Time.”

Barry Hirshorn van Honolulu, Hawaii: “The first thing through my mind was that we may have a potentially damaging local tsunami.”

Samith Dhammasaroj, die vorige hoof van Thailand se meteorologiese departement: “They disregarded my warning issue and they said I’m a crazy man… I’m a mad man.”

Suidoos-Asië kon moontlik die enorme lewensverlies meestal voorkom het as die regerings ‘n meer wetenskaplike ingesteldheid aan die dag gelê het. Moderne mediese kennis het ten minste grootskaalse siektetoestande voorkom, terwyl die rampsituasie met moderne kommunikasie- en vervoertegnologie bestuur word om skade te beperk.

As God vir hierdie rampe verantwoordelik sou wees, sou ‘n mens kon sê dat die wetenskap van 2004, anders as die wetenskap van, byvoorbeeld, 1755, God se wraak kon temper. God se vermoë om sonde te straf, of om mense tot verantwoording te skok, kan klaarblyklik deesdae aan bande gelê word. Die wetenskap kan mense deesdae ten minste waarsku oor die tyd en die plek waar God se toorn volgende sal ontvlam.

Harold Kushner skryf: “The flood that devastates a town is not an ‘act of God’, even if the insurance companies find it useful to call it that. But the efforts people make to save lives, risking their own lives for a person who might be a total stranger to them, and the determination to rebuild their community after the flood waters have receded, do qualify as acts of God.”[12]

“Dade van God” veronderstel ‘n God; God kan nie die krediet van voortreflike optrede kry en op grond van uitdyende wetenkaplike kennis die betaalkant van die vergelyking vryspring nie.[13]

Meelewing, medelye en troos is nie die ekslusiewe domein van ‘n bepaalde ideologie nie. Net soos God nie die oorsaak van natuurrampe is nie, is God ook nie die oorsaak van empatie, simpatie, meelewendheid en vertroosting nie. Hierdie kwaliteite is gewoon maar net die morele gevolg van mense se taai instink om te oorleef. Dit is juis die enigste moraliteit, die enigste etiese bestel wat níe mensgemaak is nie – die suksevolle oorlewing van vrugbare nasate – natuurlike seleksie, wat lewe onderlê. Ons het nie ‘n God nodig om rampe onder smeekgebede te verhoed nie; ons het nie ‘n God nodig om uitnemendheid te verwerf nie.

Minette Marrin skryf dat wetenskaplikes oor die laaste paar dekades toenemend die intellektuele inisiatief geneem het en die intellektuele hoë grond opgeëis het. Die wetenskap se vermoë om kulturele, politieke en selfs godsdienstige verskille te oorbrug, help hierdie proses aan. Verskeie wetenskaplikes het veelseggende en leesbare boeke vir die algemene leser geskryf. Wetenskaplikes is besig om die openbare intellektuele te word, die mense op wie ons staatmaak vir verduidelikings en oplossings. Wetenskaplike antwoorde mag soms bevooroordeeld en onvolmaak wees, maar dit is steeds beter as die alternatiewe verduidelikings. As daar antwoorde op die groot vrae van die lewe is, of as daar alternatiewe vrae is om te vra, is die wetenskap die plek om aan te klop.[14] Daadkrag en intellektuele wilskrag is belangriker as ideologiese naywer; ‘n wetenskaplik ingestelde beskawing is meer werd vir die toekoms as een gegrond op bygeloof, kwasi-kennis en ‘n vasklou aan valse hoop, soos Die Burger onlangs in ‘n hoofartikel geskryf het.[15]

Lisabon 1755 het ‘n bepaalde invloed op denke gehad – mense het meer gesofistikeerde vrae begin vra oor God se rol in die wêreld; vrae wat die Verligting aangehelp het: Die Duitser Gotthold Ephraim Lessing se didaktiese gedig, Nathan der Weise (1779), hou dat die “ware godsdiens” lankal verlore gegaan het en dat die Judaïsme, Christendom en Islam maar net floue naklanke is. Neologie, ‘n teologie wat die openbaringe van God beperk tot uitsprake wat vir die verstand begryplik is, oorheers die universiteite.

Ek hoop dat Suidoos-Asië 2004 ‘n soortgelyke invloed sal hê. In ‘n brief oor die tsoenami aan die Biskop van Lincoln, skryf Richard Dawkins: “Kom ons staan van ons knieë af op, kom ons hou op om voor paaiboelies en skynbare vaderfigure te kruip, kom ons staar die werklikheid in die gesig en help die wetenskap om iets konstruktief te doen oor lyding.”[16]

Dít is die enigste etiese, morele ding om te dóén met betrekking tot lyding. Hiérin lê medemenslikheid, medelye en uiteindelike troos.


[1] Odette Schwegler, vervaardiger; Carte Blanche, Tsunami warnings unheeded, aanbieder : Ruda Landman, navorsers : Seamus Reynolds, Nicole Stubbs, Gudrun Heckl, MNET inteken sateliet TV, Randburg, Suid Afrika, 23 Januarie 2005.[2] Ernst M. Conradie, Wie kan met so ‘n God saamleef?, By, Naweekbylae tot Die Burger, 15 Januarie 2005.[3] Gerrit Brand, LitNet, Teo-die-see, 7 Februarie 2005.[4] Mark Steel, Should we end God’s monopoly over the universe?, The Independent, 13 Januarie 2005.[5] Ernst M. Conradie, Ibid.[6] Richard Dawkins, Science saves, The Guardian, 31 Desember 2004.[7] Bill Bryson, A short history of nearly everything, 2003.[8] Sakkie Spangenberg, Welkom by die ontnugterdes!, LitNet, 18 Januarie 2005.[9] Richard Dawkins, God’s Utility Function, in Scientific American, November, 1995.

[10] Ernest Becker,The Denial of Death, 1973.

[11] Odette Schwegler, Ibid.

[12] Harold Kushner, When bad things happen to good people, Schocken Books, 1981.

[13] Vergelyk Sakkie Spangenberg, Godsdiens-aktueel: Tsoenami’s geen ‘daad van God’, Beeld, 10 Januarie 2005, en Nathan Bond, Mens sal oorleef ondanks opslagballe, Beeld, 11 Januarie 2005.

[14] Minette Marrin, Moralists merely wail, but science gives us answers, Sunday Times (London), 9 Januarie, 2005.

[15] Die Burger, Kommentaar: Ontdekkings, 17 Januarie 2005

[16] Richard Dawkins, 31 Desember 2004.

Written by Nathan Bond

July 2, 2007 at 18:39

2 Responses

Subscribe to comments with RSS.

  1. Hans jy is heeltemal reg , die natuur moet beskerm word .

    Maar wat is die foking “God” ding waarvan jy praat .

    DW

    December 1, 2008 at 13:35

  2. Mens moet God eer en die natuur respekteur, want wie weet, môre, is ons nie meer.

    Hans Matthysen

    November 27, 2008 at 21:39


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: