Nathan Bond's TART Remarks

Religion: Respect? Ridicule!

Onderhoud met Satan

leave a comment »

Onderhoud met Satan

23 Januarie 2007. Nathan Bond. Alle regte voorbehou.

Na insiggewende onderhoude met God en met die Heilige Gees, het Nathan Bond, na maande, daarin geslaag om die Satan vir dertig minute te spreek.

NB: Baie dankie vir hierdie geleentheid… nes met my vorige kosmiese bekendes is ek onseker oor hoe ek u moet aanspreek…

L: Lucifer sal doen. Ek moet sê dat mense se name vir my ‘n groot bron van persoonlike plesier is.

NB: Wel… Lucifer… so van plesier gepraat: ek dink dit is vreemd dat mense beide oneindige pyn en onbevange plesier met u vereenselwig. Hoekom is dit die geval?

L: Kyk, ek sê altyd vir my amptenare dat die dood en plesier nou verwant is. Neem nou maar die opperste plesier wat daar vir mense is – seks: die liggaamshoudings en die krete is byna presies soos die van mense wat pynlik sterf. Wanneer slegte goed gebeur is dit altyd ék; goeie goed is altyd… jy weet wie. As jy by fyndraai kom en ‘n orgasme kom soos ‘n tsoenami aan, dan’s dit “O, God, ek kom!”, as jy uitgeput en swetend na jou asem lê en hyg en jy moet opstaan om na vroulief se aandete terug te gaan, en die skuldgevoel kom soos ‘n tsoenami aan, dan’s dit “The Devil made me do it.” Hemel in die hiernoumaals is altyd ék; hemel in die hiernamaals is altyd… jy weet wie.

NB: U noem God nie by die naam nie?

L: Kom ek vertel jou van God. God is ‘n terggees! Hy gee julle mense instinkte – en wat doen Hy? Hy verbied julle om daaraan gehoor te gee. Jy sien ‘n sexy vrou wat skalks vir jou glimlag en haar heupe vir jou swaai en omkyk na jou… en wat wil Hy hê moet jy doen? Die spesies propageer? Uh-uh! Jy moet wegstap en Hom verskoning vra omdat jy gereageer het soos Hy jou gemaak het. God is ‘n sadis, man! Hóm eer? Hóm by die naam noem? Nóóit! Wat vir ‘n naam is “Ek Is” in elk geval? Dit was net Moses wat dáárvoor geval het – half dood van hitte uitputting en dehidrasie.

NB: Die verhouding tussen u en God het kennelik op ‘n stadium mateloos versleg…

L: Jy kan dít weer sê! Hoe sal jy voel as jy jou hele ganse lewe lank – en ons engele lééf my maat, ons leef vir éwig – vir éwig, iemand anders se ego moet streel? O, Jy is sóóó wonderlik! So almagtig! So genadig! So mooi! Ek moes sonder ophou bladmusiek produseer vir die hemelkore. Magtag, ek het op ‘n stadium vyf honderd duisend – výf hónderd dúisend – komponiste gehad om al daai kore van musiek te voorsien. En dink jy God soek dieselfde wysie twee maal? Moenie glo nie! Hy luister een maal en dis dít. En kan Hy ónthóú?

Dís juis waar die verhouding versuur het: God moes per geleentheid ‘n skepping van een-ogige Beta vulgaris rubra reuse op Ewurtfu 9 neffens Sirius B gaan besoek en Hy wou ‘n dramatiese entrance hê. Ek moes terselfdertyd vir Jesus kamermusiek gereed hê vir ‘n sessie met nuutgestorwe Wêkjas van Osibus G in die vierde kwadrant – sensitiewe siele – en toe gee ek vir Koor 666, as ek reg onthou, dieselfde musiek wat ons gebruik het toe God 8234 jaar tevore twee gemeenskappe op Lladus 14, in die tweede kwadrant, met “die Volle Geweld van My Toorn” getref het.

Arme Gabriël moes die leiers gaan sê hulle gemeenskappe gaan verwoes word; die ouens het vir hom gelag; God het sy moer iets allerverskrikliks gestrip; ek moes musiek produce en arme Klotz moes ‘n meteoriet twee ligjare ver gaan haal om die arme dônnirs se blyplekke uit te wis. Dít alles omdat een van die onderleiers per geleentheid ‘n skajak (iets soos julle kamele) pleks van ‘n bosjuk (iets soos julle beeste) geslag het.

Maar ek dwaal af. God herken toe die musiek van 8000 jaar gelede net toe Hy die arme beetkop Druniesj se enkele oog met die “Volheid van My Lig” verblind. Jissis! Maar Hy vereg vir Hom, Nathan! Dis bliksemstrale net waar jy kyk, en die arme beetkoppe hardloop in alle rigtings weg met daai irriterende hoë frekwensie skreeu wat hulle gee. En as hulle bang raak gee hulle die allerverskriklikste stank af – en dít (‘n ontwerpersfout wat Dramakween – die hoofontwerper van die Skeppingspan – laat deurglip het) maak God toe van vóór af de moer in en hy wil Dramakween net daar “met die Volle Geweld van My…” tref.

En ek sê toe: “Nee! Magtag! Stop dit nou. Dis mý fout. Ek het vir die koor die verkeerde musiek gegee…”

NB: U gaan God toe teë?

L: Ja! Só kon dit mos nou nie aangaan nie. Hy fôk almal op wat skuins na Hom kyk, of wat nie die letter van sy bisarre wette nakom nie, en dan moet my oorwerkte kore dit ontgeld. En die engele wat Sy absurde lewensontwerpe moet gestalte gee!

Fôk, man, daar’s ‘n wet op Vasgok wat die Vasgoki verbied om op die agste dag (hulle het 10 dae per week daar) te pís. Te pís. Die arme dônnirs drink van die middag van die sewende dag niks nie, tot so ‘n uur of twee voor sonsondergang op die agste dag. As jy op die agste dag pis, dan… wel, dan kák jy! Bid jou aan!

NB: Wat gebeur tóé?

L: Wel, God reël toe ‘n Direkteursvergadering. Hy, Jesus, die Parakleet (ons het hom “parapleeg” genoem omdat hy altoos gesweef het; nooit geloop het nie), ek (Musiek), Gabriël (Kommunikasie), Dramakween (Skeppings) en Anahaailyt (Uitwissings).

En Hy vreet my van ‘n kant af uit. Oor ek een maal in meer as 8000 jaar ‘n stuk musiek herhaal het. En die “collateral deaths” op Ewurtfu 9 is toe ook sommer my skuld, nes arme Druniesj se blindheid, en die een ding volg op die ander en toe ek my oë uitvee toe kyk die Triniteit my met sulke houtoë aan.

NB: Hulle wil u toe doodmaak?

L: Nee. Dit werk nie só nie. As God ‘n engel doodmaak sal Gevak (die Gerub Vakverbond) Hom nooit weer ondersteun nie. Dít kan ‘n kosmiese coup d’état tot gevolg hê.

Nee. Dramakween lê toe die bloudruk voor vir júlle planeet – Aarde – vir onmiddelike skepping en dit word aanvaar. Jy sien, ek het bykans een derde van die engele agter my gehad – ek was immers die “Celestial Rock Star”; ék was “Mr Music” in die ganse kosmos!

Hulle besluit toe dat ek en my ondersteuners ‘n kans sou kry om die “kroon van die nuwe skepping” sover te kry om my te ondersteun, en as ek dit kon regkry, kon ek op die Aarde bly.

NB: And the rest is history?

L: You’ve got that right!

Weer die kwessie van drange en wette wat lynreg bots. Toe Eva daai vruggie vir Adam gee, en hy eet, en sy ogies gaan oor daai girl se lyf oop, toe pomp hulle vier dae lank voor hulle God se stem eers gehóór het.

Toe’s daai God moerig! Jy ken die storie…

NB: En die toekoms. Wat gaan met u gebeur in die toekoms?

L: Ek weet nie. Daar’s baie stories. Daai retard wat Openbaring geskryf het – how’s that, hey? – praat van ‘n poel van vuur. Maar ek weet nie. God was báie lanklaas hier op aarde. Ek dink Hy het die plek vergeet. Kyk, toe Jesus destyds hier weg is, het hy gesê hy kom sommer gou weer terug om daai spul useless bedelaars wat hom oral gevolg het te kom haal. Maar waar is Jesus? Hê? Sê my!. Waar is Jesus? Wég!

NB: Mense sê dis u wat al die moeilikheid op aarde veroorsaak. Is dit so?

L: Kyk, man. Hoekom sal ek mense nou wil uitwis? Hoe meer mense hoe meer kan ek God irriteer. Hy maak ‘n reël; ek wys op die dinamika van Dramakween se ontwerpe en die mense kies vir my. Ek vervul ‘n onmisbare rol! As ek nie daar was nie, sou mense self verantwoordelikheid moes neem vir hulle dade. Nou’s dit, laaik, “Sorry, the devil made me do it!” Mense kan nie sonder my lééf nie, man! En solank die produk in mense se behoefte voorsien, meen ek ek sal in besighied bly!

NB: Baie, baie dankie, Lucifer! Baie insiggewend!

L: Jy’s welkom. Kom loer gerus weer in.

Written by Nathan Bond

December 23, 2008 at 12:40

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: